Help Bethal SAVF
Die SAVF se maatskaplike kantoor het vanjaar dienste aan 660 kinders en gesinne gelewer.

BETHAL – Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se maatskaplike kantoor het vanjaar dienste aan 660 kinders en gesinne gelewer.
Probleme het ernstiger en meer algemeen geword weens die swak ekonomiese toestand.
Sake soos kindermishandeling, seksuele molestering van kinders, huweliksberading, egskeidingsberading en ouerleiding is ook aangespreek.
Kos en klere is onder andere aan die mees kwesbare gesinne voorsien.
“Ons is in die knyp omdat ons nie oor genoeg vrywilligers beskik om ons by te staan nie,” het me. Frances Claasen, maatskaplike werker, gesê.
“Die omvang van die dienste is van só ’n aard dat die maatskaplike werkers nie alleen in al die behoeftes kan voorsien nie.
“Elke mens het ’n talent en doel op die aarde en ons vra die publiek dat indien iemand talente het waaruit die SAVF en die gemeenskap in geheel kan baat, hulle ’n stappie vorentoe sal gee.”
Mense wat byvoorveeld kan bak, onderrig gee, goed is met administratiewe werk of selfs iemand wat slegs morele ondersteuning kan bied, word deur die SAVF genooi om hulle in hul daaglikse take te help.
Vir meer inligting, skakel me. Claasen by 017 647 3345.