Local newsNews

Gert en Cor hou mense op hoogte van die plaaslike weer

Besoek webtuiste en kry inligting oor die plaaslike weer.

SECUNDA – Mnre. Cor Rademeyer en Gert Botha hardloop weerstasies van hul huise af.

“Ek het nog altyd in die weer belang gestel en het in 2006 Secunda toe getrek en gesien hier is nie baie inligting oor die weer beskikbaar nie,” het mnr. Rademeyer gesê.

Hy het toe besluit om self inligting oor die weersomstandighede te kry en dit op ’n webtuiste te sit.

“Ek het die inligting, so ek kan dit net sowel ook met ander mense deel.”

Dié webtuiste, naamlik www.secundaweather.co.za, is al vir die afgelope vier jaar aan die gang.

Mnr. Botha het ook ’n weerstasie by sy huis en hy en mnr. Rademeyer vergelyk hul inligting voordat mnr. Rademeyer dit op die webtuiste sit.

Hulle meet onder andere die temperature, reënval, windrigting en windspoed.

“Mense stel die meeste in die huidige weersomstandighede belang,” het mnr. Rademeyer gesê.

Volgens hom is die herfs en lente hul stilste tye omdat daar dan nie baie reënval of ryp is nie.

“Dan kry ons daagliks so 50 besoekers op ons webtuiste.

“In die winter en somer kry ons daagliks so 500 tot 800 besoekers en met die onlangse storms het ons 5 000 besoekers op ons webtuiste gehad,” het hy gesê.

Van die toerusting wat mnre. Rademeyer en Botha gebruik om die weer te meet, is handgemaak.

Dit is ’n stokperdjie wat albei mans in hul vrye tyd beoefen.

“Ons hou daarvan om met elektronika of enige iets elektronies te werk,” het mnr. Rademeyer gesê.

Hy het ’n sensor as deel van sy weerstasie wat aardbewings optel en het onlangs ’n aardbewing wat naby Pakistan plaasgevind het, se vibrasies opgetel.

“Die sensor tel dit op, maar ’n mens kan dit nie voel nie,” het hy gesê.

Hulle moet die toerusting op hul dakke, wat deel van die weerstasies is, gereeld skoon maak sodat dit doeltreffend kan werk.

Dié twee mans en ’n paar ander vriende beplan om binnekort ’n spesifieke spesiale ballon met toerusting wat die druk en temperature kan meet en ook foto’s kan neem, vanaf Klerksdorp te lanseer.

“Secunda Amateur Radioklub en die weerstasie gaan saam dié projek aanpak,” het mnr. Botha gesê.

Dié ballon en toerusting het ’n valskerm aan sodat die toerusting weer veilig op aarde kan land.

“Ons sal dan die toerusting moet soek, want dit kan enige plek in ’n radius van 200km val,” het hy gesê.

Die doel van dié projek is om te kyk of hul stelsel werk en dan sal hulle dalk ’n groter projek aanpak.

Die ander mans wat aan dié projek gehelp werk het, is mnre. Christo Kriek (projekleier) en Willie Taljaard.

Ander lede van Secunda Amateur Radioklub gaan ook die uitstappie meemaak en help om die toerusting te soek.

Mnr. Rademeyer beplan om binnekort ook ’n afgesonderde weerstasie op Bethal op te sit en hy sal dan die weersomstandighede by sy huis op Secunda monitor.

Hulle het die publiek aangeraai om eerder op die webtuiste www.weathersa.co.za te gaan kyk as om boodskappe op sosiale netwerke of boodskappe wat met selfone versprei word te glo, veral as dit waarskuwings oor uitsonderlike weersomstandighede is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button