Dokter Van Wyk groet Secunda
Dr. Klaas en me. Ina van Wyk is gereed vir vakansie in Skotland.
TRICHARDT – Dr. Klaas van Wyk, ginekoloog, verruil die dorp na 28 jaar vir Knysna.
Hy het op 22 Augustus sy laaste pasiënt gesien en op 26 Augustus op sy laaste pasiënt geopereer.
Hy en sy vrou, me. Ina van Wyk, gaan eers vir drie weke in Skotland vakansie hou voordat hulle hulself op Knysna gaan vestig.
“Dit is die eerste keer in my lewe wat ek en my vrou vir so lank met vakansie kan gaan,” het dr. Van Wyk gesê.
Hy kon tydens sy loopbaan net vir naweke of hoogstens ’n week met vakansie gaan.
Die egpaar sien uit na ’n nuwe lewe op Knysna.
“Ek sal miskien nou en dan tydens operasies assisteer, maar nie weer praktiseer nie.
“’n Mens se oog en hand moet ingestel bly om operasies te doen, so dan moet ’n mens dit gereeld doen, nie net nou en dan nie,” het hy gesê.
Dr. Van Wyk is op Kroonstad gebore en het op Warrenton grootgeword.
Hy het na skool medies aan die Universiteit van Pretoria gestudeer.
Hy het na sy studies as huisdokter op Kathu gewerk en toe op Bloemfontein in ginekologie gespesialiseer.
Dr. Van Wyk is in kuns geïnteresseerd en wil noudat hy meer vrye tyd gaan hê, sy graad in kunsgeskiedenis voltooi.
“Ek wil dit doen omdat ek dit geniet, dit is iets heeltemal anders as mediese studies.”
Hy het lank gelede met dié graad begin, maar moes toe sy studies staak omdat dr. Nel wat destyds op Secunda was, weggegaan het en dit toe te besig geraak het.
Dr. Van Wyk versamel kunswerke en reis en lees ook graag.
Hy geniet dit ook om tyd met sy twee kleinkinders te bestee.
Hy is lief vir tuinmaak en beskou dit as ’n nuwe uitdaging om op Knysna met fynbos tuin te maak.
“My kennis van fynbos is ’n protea.”
Hy glo die Here het hom en sy vrou 28 jaar gelede op Secunda geplaas.
“Ons was geseënd hier, maar ek voel ons word nou na Knysna gestuur.
“Ek het destyds hier aangekom as ’n rowwe klip, maar is nou geslyp soos ’n ronde rivierklip deur die interaksie met my pasiënte,” het hy gesê.
Dit was vir dr. Van Wyk wonderlike jare om deel van gesinne op Secunda te word.
“Ek het baba’s gevang en wanneer daardie baba’s groot en getroud is, het ek ook hul baba’s gevang.
“Ons neem mooi herinneringe saam met ons.”
Hy het sy pasiënte van al die jare vir hul ondersteuning bedank.