SECUNDA – Me. Tilly van Tonder, eienaar van Faith4U Boekwinkel by die Kruik Kerk, se Pienk Hoed Borskankerbewusmakingsprojek het vlam gevat en al die pienk hoede is reeds uitverkoop.
Die geld van die hoede, strikke en ander artikels wat sy vir borskankerbewusmaking verkoop het, gaan om kankerpasiënte en mense wat deur kanker geraak word, te help.
Me. Van Tonder het in 2006 borskanker gehad en is na chemobehandeling en bestraling genees.
Sy het ’n paar jaar gelede ’n borskankerbewusmakingsprojek begin en pienk haarstukke verkoop om mense van borskanker bewus te maak.
Sy het besluit om vanjaar weer ’n projek aan te pak.
Die idee is dat mense wat dié hoede gekoop het, dit elke Vrydag, of daagliks, dra om ander van borskanker bewus te maak.
Me. Van Tonder het ook ’n teddiebeerprojek waarmee sy geld vir kankerpasiënte insamel.
Sy het werkgewers aangemoedig om hul werknemers oor kanker in te lig en om hulle gereeld vir ondersoeke te laat gaan.
Sy het 5 Star Superspar, Spur, Panarottis, Ocean Basket, Dros, Kalahari Slaghuis, Secunda Bloemiste, Seeff, Kruik Kerk en die Ridge Times vir hul ondersteuning bedank.
“Woorde kan nie omskryf hoe my wildste drome oorskry is deur die Pienk Hoed Borskankerbewusmakingsprojek nie.
“Baie dankie vir almal se ondersteuning, dit is ’n warm gevoel wat in ons harte klop om te sien hoe die gemeenskap betrokke geraak het en hul pienk hoede dra.
“Ek beplan om volgende jaar groot te gaan met dié projek en sal julle op hoogte hou.”
Me. Van Tonder het gesê die begeerte om weer bewusmaking te doen, het gekom nadat sy haar neef wat aan kanker ly, onlangs in die hoësorgeenheid van die hospitaal besoek het en nadat ’n kankergewas uit haar suster se gesig gesny is.
“My passie kom van my eie ondervinding met borskanker en ek het al ’n paar vriendinne aan borskanker verloor.
“Ek glo as jy ingelig is en jouself ondersoek, kan jy voorkomend wees.
“Faith4U Boekwinkel het geboorte gegee aan my droom om na die gemeenskap uit te reik.
“My eerste verkope was teddiebere sodat ons mense wat deur borskanker geraak is, kon bederf.”
Me. Van Tonder beplan reeds volgende jaar se Pienk Hoed Borskankerbewusmakingsprojek en wil mooi hoede ontwerp.
Hou hul Facebook-blad, Secunda Books and Gifts, dop vir meer inligting.