SECUNDA – Mnr. Piet Prinsloo (60) se grootste wens is op Saterdag, 7 Februarie bewaarheid toe mnr. Pieter Botha hom in sy viersitplek vliegtuig vir ’n rit oor die dorp geneem het.
Mnr. Prinsloo is bykans ’n jaar gelede met aggressiewe slukdermkanker gediagnoseer en een van sy laaste wense was om weer in ’n klein vliegtuig te vlieg.
Hy het 40 jaar gelede laas saam met een van sy vriende gevlieg toe dié ’n vliënier geword het.
“Hy het soms die ‘stokke’ vir my gegee.”
Mnr. Prinsloo se skoonseun, mnr. Paul Purves, het die Ridge Times geskakel en gevra of hulle weet van iemand wat bereid sal wees om sy skoonpa vir ’n rit te neem.
Mnr. Pieter Botha het ingewillig en gesê hy sal dit met liefde doen.
Me. Anita Purves, mnr. Prinsloo se dogter, het saam met hom en mnr. Botha gevlieg.
“My skoonpa kan nie meer self eet nie en moet met ’n buis deur sy maag gevoer word,” het mnr. Purves gesê.
Mnr. Prinsloo was nog altyd erg oor vliegtuie en lees maandeliks tydskrifte oor vliegtuie en weet volgens mnr. Purves alles van vliegtuie af.
“Hy was só opgewonde die week voor sy vlug, hy was soos ’n kind.
“My skoonma moes ’n week voor die tyd al sy klere wat hy Saterdag wou aantrek, gereed kry en stryk,” het mnr. Purves gesê.
Mnr. Prinsloo se vrou, me. Magda Prinsloo, het emosioneel geraak toe sy vertel het hoe haar man na dié dag uitgesien het.
“Vliegtuie lê my na aan die hart en die rit was ’n hartsbegeerte vir my,” het mnr. Prinsloo gesê.
“’n Mens kan daardie gevoel daarbo vir niemand beskryf nie, jy moet dit self beleef.
“Jy kan dit nie beskryf nie en dit was beter en lekkerder as my wildste drome.
“Die uitsig oor Secunda was ongelooflik.”
Hulle het mnr. Botha, Langamed en almal wat die rit moontlik gemaak het, bedank.
“Ek dank ook my Vader daarbo vir die geleentheid,” het mnr. Prinsloo gesê.
“Dit is vir my altyd lekker as iemand saamvlieg en geniet wat ek geniet,” het mnr. Botha gesê.



