Man gee sy drank op
“Dis ’n gewetensbesluit om op te hou drink. Een wat jý maak. Niemand dwing jou nie.”
SECUNDA – ’n Lid (44) van die plaaslike AA het gesê die pad wat hy saam met die plaaslike AA geloop het, en steeds loop, was in die begin vreemd.
“Ek het eers later besef dat die groepvergaderings, leesstof en tradisies nodig is om nuwelinge soos ek gerus te stel en seker te maak dat daar ’n struktuur aan die proses gegee word.
“Die vriendskappe wat gebou word en die omgee van medelede maak dit die moeite werd.”
Hy het bygevoeg dat daar altyd iemand is wat bereid is om te luister en tyd saam met jou te bestee.
“Die keuse om op te hou drink, was nie maklik nie, maar nodig.
“Ek sou nie 50 gemaak het as ek aanhou drink het nie.
“Om daagliks van ’n vloeistof wat net die waarheid vir my verdoof het, afhanklik te wees, het nie meer gewerk nie.”
Hy het vertel dat hy gelukkig was en nooit by die werk moes “blaas” nie.
“My kollegas het later geweet ek het ’n drankprobleem, maar niks gesê nie.
“Pepperminte, kaas en mondspoelmiddels werk net vir ’n rukkie.
“Dis ’n gewetensbesluit om op te hou drink. Een wat jý maak. Niemand dwing jou nie.
“Mense vra dalk wat dan van jou wederhelfte, jou kinders, dié wat vir jou omgee.
“Niemand kan jou dwing nie, hulle kan net bid en glo dat jy op die regte pad sal kom.
“Wanneer jy eers besluit het om die AA-vergaderings by te woon en te luister hoe ander hul probleem ervaar, kom jy agter dat die keuse nie só moeilik is nie.
“Jy hoef niks te sê by die vergaderings nie, nie eers jou naam nie.
“Alles is anoniem en dit is hoe dit bly.”
Die man het gepraat oor die gevoel van vrede wat jy ondervind wanneer jy die besluit geneem het om op te hou drink.
“Wonderwerke gebeur en drome word dan waar.”
Daar is ook ’n groep vir die alkoholis se geliefdes en dié wat hulle ondersteun, naamlik Al-Anon, waartydens hulle oor húl ondervindinge praat en oor hoe om bystand aan ’n alkoholis te verleen.
Ook húlle kan kies om anoniem te bly.