Local newsNews

Koop ’n strik en gee om

“Vroeë diagnose van kanker mag dalk jou lewe red en jy staan ’n groter kans op genesing.”

SECUNDA – Die plaaslike ATKV-tak se jaarlikse Kankeromgeeprojek het op lentedag afgeskop en die dorp gaan weer in geel, pienk en blou getooi word.

Dié projek se hoofdoel is om ondersteuning aan kankerpasiënte te verleen.

Jou R20 vir ’n strik gaan vir onder andere bemoedigende kankergeskenkpakkies, finansiële ondersteuning vir diegene sonder ’n mediese fond, asook vars vrugte en groente vir bejaardes wat kanker het.

Koop ’n geel strik ter ondersteuning van kinders met kanker, pienk vir borskanker, blou vir mans met kanker en pers strikke vir alle kanker.

Dié strikke word gewoonlik om bome gesit, maar kan om enigiets gesit word.

Me. Tracey van Wyk van die ATKV-tak het gesê: “Die strikke dien ook as kankerbewusmaking en dat mense nie moet nalaat om enige abnormaliteit te laat nagaan nie.

“Vroeë diagnose van kanker mag dalk jou lewe red en jy staan ’n groter kans op genesing.

“Probeer dit vermy om in die son te wees, gebruik ’n goeie sonbeskermingsroom en dra altyd ’n hoed as jy buite is.”

Me. Van Wyk het gevra dat sakelui ook by die projek betrokke raak deur strikke te koop en by hul ondernemings op te sit.

Die ATKV-tak gaan strikkies by Marietjieskool se mark in die laaste week van die maand verkoop.

Om strikke te koop, skakel me. Van Wyk by 074 103 6381 of besoek Otterjasie Kleuterskool of me. Loraine Campfer by Laerskool Oranjegloed Primary School.

Related Articles

Back to top button