Alta wil die gemeenskap voed
“Dit is in my bloed om ander te help en dit is wat ek wil doen.”
SECUNDA – Me. Alta Horn het Giving Hearts in Junie vanjaar gestig om mense in nood te help.
“Ek kom uit ’n huis waar my ma altyd deel was van organisasies wat mense help.
“Sy het in Pretoria betrokke geraak en dit is iets wat ek ook as ’n passie sien.
“Dit is ongelooflik om die dankbaarheid van kinders te sien wanneer hulle byvoorbeeld ’n speelding kry.”
Giving Hearts het al vir 35 gesinne kos gegee.
Volgens me. Horn is dit soms vir sommige ouers nie moontlik om hul gesinne te onderhou nie en wil sy sorg dat daar kos op die tafel is vir dié gesinne.
“Dit is hartseer om te dink dat ’n kind sonder kos gaan slaap en dit is wat ek wil vermy.”
Me. Horn was betrokke by die Oupa- en Oumadag wat onlangs vir inwoners van Davieshof en Visserwoonstelle by die Eendedam gereël is.
Hulle het kos geëet, gehengel en op die treintjie gery.
Dit was vir me. Horn belangrik om aan die gemeenskap terug te gee en so ook bejaardes uit die huis te kry en besig te hou.
“Dit is egter onmoontlik om alles alleen te doen en ek is bevoorreg om mense te hê wat my help.
“Dit is vir my so spesiaal om te sien hoe die ondernemings bereid is om te help waar hulle kan.
“Ek wil uit my hart uit dankie sê vir Dischem Secunda, Minuteman Press, Modern Hear & Beauty, Strydom Haarsalon, Sons Take Away Trichardt, ER Ambulans dienste en MCR se mnr. Nico Higgs vir hul gereelde bydraes tot Giving Hearts.
“Daar is ook spesiale mense soos Corrie van Tonder, Tannie Johanna, Elani van der Merwe en Basil van Tonder.
“Met dié ondernemings en mense se hulp kry ons dit reg om die gemeenskap te kan dien.”
As jy by Giving Hearts betrokke wil raak, skakel me. Horn by 071 107 7261.



