Dokter Peet en me. Gerda Venter groet Evander
Dr. Peet, soos hy steeds onder meeste van sy kliënte bekendstaan, se lewensleuse deur die jare was: “Elke dier verdien die beste behandeling moontlik.”
EVANDER – Dr. Peet en me. Gerda Venter groet Evander na 34 jaar.
Hulle het besluit om Marlothpark wat aan die Nasionale Krugerwildtuin grens, hul nuwe tuiste te maak.
Dr. Venter het die deure van Evander Dierekliniek vir die eerste keer op 13 Desember 1982 geopen.
Hy was die eerste veearts op Evander en Evander Dierekliniek is steeds die enigste veearts op dié dorp.
Dr. Peet, soos hy onder meeste van sy kliënte bekendstaan, se lewensleuse deur die jare was: “Elke dier verdien die beste behandeling moontlik.”
Hy het diere altyd eerste gestel en dikwels op vakansiedae en snags noodgevalle hanteer.
Welsynsorganisasies soos die Hoëveld Dierebeskermingsvereniging en Little Paws Big Hearts het gesê hulle was bevoorreg om hom as deel van hul span te kon hê.
Dr. Venter het elke kliënt wat hom met die versorging van hul diere vertrou het, bedank.
Sy daaglikse bevrediging het uit die waai van ’n hond se stert, die gespin van ’n kat en die gebulk van ’n nuutgebore kalfie gekom.
Me. Venter het in 1983 ’n pos as Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Evander aanvaar.
Sy het in Januarie afgetree.
Afrikaans bly steeds haar passie en sy het deur die jare gepoog om ’n verskil te maak in die lewens van die leerders wat haar pad gekruis het.
Me. Venter het haar uitgeleef as jarelange leerlingraadsvoog, voorsitter van die skool se landsdiensklub enwas die skaakorganiseerder.
Sy het weer bevrediging daaruit geput as sy gesien het hoe skaam gr. 8-leerders tot suksesvolle volwassenes ontwikkel en ’n verskil in die gemeenskap maak.
Die tyd het egter nou vir dié egpaar aangebreek om die gebied te groet.
Die nuwe eienaar van Evander Dierekliniek is dr. Melinda Hansen.



