Stephen Nortjé is ’n lewenslange inwoner van Standerton en het al diep spore in die gemeenskap getrap.
Hy is sedert 1995 met Sonja getroud en het twee seuns, Juan en Ruan Nortjé. Nortjé het in 2016 sy liefde vir gholf ontdek op Standerton se gholfbaan.
Hy is op die gholfklub se kommittee verkies in 2020 en dien tans as voorsitter van die Buiteklubkommittee.
Nortjé het die klub deur verskeie fases gesien groei en was bevoorreg genoeg om deel te vorm van ’n uitstekende span kommiteelede, bestuurders en personeel wat die klub en bane gebring het tot waar dit vandag is.
“Ek is trots op wat ons kon opbou. Ná ’n brand het ons ’n kans gehad om ’n sukses van die klub te maak, en ons het dit aan gegryp,” het Nortjé trots angekondig.
Hy speel egter gholf op talle bane en hoewel die Standerton Buiteklub sy eerste liefde is, geniet hy graag die uitsigte van bane van oral in die land.
In 2018 was Nortjé bevoorreg om saam Brandon Grace, bekende gholfspeler, in die Kaap af te slaan.
Nortjé neem jaarliks deel aan ’n Suidkustoer, waar hy op talle bane langs die suidkus speel. Hy het ook deelgeneem aan die SA Seniors Gholftoernooi op Melkbosstrand.
Sonja het onlangs haar man se liefde vir die sport opgetel en speel gereeld sosiaal op Standerton se bane.
Gholf is egter nie die enigste sport wat Nortjé geniet nie.
“Ek probeer so aktief as moontlik bly,” het hy verduidelik.
Nortjé het sedert sy skooljare aan verskeie sportsoorte deelgeneem, insluitend swem, rugby, krieket en stoei.
In 1998 tot 2004 het hy aan verskeie liggaamsboukompetisies deelgeneem. Buiten sy liefde vir sport, sing Nortjé ook graag.
Hy is in 2008 aangewys as die ATKV kunstenaar van die Jaar en het die Oorkonde verwerf.
En natuurlik is geen naweek in die Nortjé-huishouding volledig sonder om vuur aan te steek en lekker te braai nie.
LEES OOK: Hoërskool Delmas se matrieks vier hul laaste skooldag
LEES OOK: Golf players compete in Graceland’s open championship