Die Berg gesin van Delmas se hoop was hoog, hul geloof sterk en Talitha (5) se kankertelling was soos dié van ’n normale mens, maar weer-en-weer het die kanker dié klein mensie en haar gesin getref.
As die jongste lid van ’n gesin van sewe, was Talitha slegs twee jaar en vier maande oud toe sy op 14 Desember 2021 met ’n baie raar kanker, Germ Cell Tumor (Yolk sac kanker) gediagnoseer is. (Streeknuus, 8 Desember 2023).
Volgens ma, Tanja Berg, was die gewas wat in haar stuitjie geleë was, toe reeds 11cm x 4.4cm groot.
““Die dokters aanbeveling was om onmiddellik met binneaarse chemo-behandeling te begin. Daar was egter ook kolletjies op die longe sigbaar en haar kankertelling was 1 000,” het Tanja gesê.
Die Berg-gesin het die pad van behandeling hand aan hand gestap en op 14 Junie 2022 kon Talitha die klok by die hospitaal lui.
“Enige kankerpasiënt sal dié term verstaan. Talitha was ‘skoon’ en klaar met chemo,” het Tanja bygevoeg.
Tydens ’n opvolg besoek het die Bergs gehoor wat hulle nie wou nie.
“Talitha se kankertelling het weer opgegaan.”
Hierdie tendens van hoër tellings en aan-en-af kankerbehandeling het gevolg en weer eens het die klok vir Talitha op 24 Februarie 2023 gelui.
LEES OOK: Several role players conduct another successful operation in Morgenzon
“Geen kankergewas was meer sigbaar nie en Talitha se kankertelling was baie laag, tegnies gesproke weg.”
Volgens Tanja het twee maande verloop toe die gesin weer opmerk dat Talitha vreemd loop, gou moeg word en ’n abnormale stoelgang het.
Die bevinding was nie goed nie. Die gewas het weer begin groei en die kankertelling het begin klim.
Gedurende Desember 2023 is Talitha in die hospitaal opgeneem vir brachyterapie prosedures.
“Die operasie self het suksesvol afgeloop, maar toe hulle vir Talitha moes wakker maak, het haar lugpyp in spasma gegaan en was daar geskarrel om haar hart en asemhaling weer aan die gang te kry.”
Gedurende Augustus vanjaar het Talitha weer onder die lem gegaan en was daar weer ’n gewas asook ’n deel van haar boud verwyder – die kanker het na haar been versprei.
Talitha moes weer chemo vir ses dae per week kry waarna dit met ses weke van bestraling, 30 sessies in totaal, opgevolg moes word.
Terwyl Talitha se pa, Albert tans op die plaas besig is om te plant, moet Tanja daagliks die tog na die hospitaal toe en terug doen. Tuis is daar nog twee ouer boeties en twee ouer sussies.
Die pad vorentoe is die oes van Talitha se eie beenmurg, die toediening van sterk chemoterapie en isolasie vir ses weke waartydens die kleinding se eie beenmurg weer in haar teruggepant sal word.
“Dit is die laaste wat vir Talitha gedoen kan word.”
Volgens die Berg ouerpaar is die impak van kinderkanker baie groot op die hele gesin.
“Een ouer moet ophou werk en dit het ’n groot finansiële impak. Uitgawes is astronomies – ons het gelukkig ’n mediese fonds, maar het al sowat R200 000 aan brandstof uitgery.
“Daar is ook ander onvoorsiene uitgawes. Die begroting klop nie meer nie en skoolgeld vir die ander kinders kan nie meer altyd bygebring word nie,” het pa Albert gesê.
Volgens Albert is dit egter nie net die finansiële impak wat druk op hul plaas nie, maar het dit beslis ook ’n groot psigiese impak op die hele gesin.
“Die realiteit is dat kanker ’n reuse stryd is. Soms werk die behandeling, ander kere nie – as gesin bly daardie swaard oor ons koppe.”
“Ons verhaal is egter nie uniek nie – ons sien soveel ander mense wat hierdeur gaan. Dit is nie net ons Talitha wat deur hierdie stryd gaan nie, maar oor elke kind wat teen kanker stry.
“Ons het oor die afgelope paar jaar kinders gesien wat gesond geword het, maar ook ander verloor aan die dood,” het Albert bygevoeg.
“Ons gesin vra net begrip en hulp. Ek glo dat dit is wat elke gesin met ’n kankerkind vra. Want glo my, die stryd vir boeties en sussies is net so groot.
“Ons gesin kan egter getuig dat die Here met ons is, ons dra en verdra,” het pa Albert afgesluit.
LEES OOK: Kleinding van Delmas glimlag steeds dapper ten spyte van vele uitdagings