’n Vuur kan groot verwoesting saai

Die blote gedagte dat jy van vooraf moet begin met ’n huis vol vreemde meubels, lampe, ornamente en wat ookal in jou huis is, vervul my tegelyk met hartseer en moedeloosheid.

Ek was verlede week op die toneel toe ’n pakhuis tot op die grond afgebrand het.

Terwyl ek so gestaan en kyk het hoe die vuur alles wat in sy pad kom net eenvoudig verwoes, het baie dinge deur my kop gegaan.

Wat as dit my huis was? Wat sou ek die graagste wou red? Dis nou as daar geen mense in die huis is nie, natuurlik.

Mens kan seker net soveel uit ’n brandende gebou kry voordat die vuur oorweldigend raak of die gebou intuimel.

Die algemeenste antwoord is gewoonlik: “Ek sal my foto-albums gryp”.

Deesdae is meeste mense se foto’s op hul rekenaars. ’n Skootrekenaar is ietwat makliker om te gryp as ’n rekenaar wat met kabels op ’n tafel vasgekoppel staan.

Ek weet dit klink dalk materialisties, maar daar is ’n paar antieke stukke wat ek nog van my ma en ander ouer mense gekry het wat ek nie graag sou wou verloor nie.

Ek weet die versekering vervang dit wat jy verloor het, maar ’n nuwe bank sal byvoorbeeld nie die plek kan inneem van ’n lekker groot, ou deurleefde leerbank wat jy al “ingelê” het nie.

Skielik het daar ’n groot deernis oor my gekom vir alle mense wat al moes toesien hoe ’n brand hul besittings verwoes.

Om net met die klere aan jou lyf of dalk in sommige gevalle ’n paar goedjies wat jy kon red, te moet staan, kan nie ligtelik op enige mens gaan lê nie.

Die blote gedagte dat jy van vooraf moet begin met ’n huis vol vreemde meubels, lampe, ornamente en wat ookal in jou huis is, vervul my tegelyk met hartseer en moedeloosheid.

Aan die arme mense wat nie verserkering het nie, wil ek nie eens dink nie. Dis angswekkend. Mag julle almal saam met julle besittings beskerm bly.

Lees ook: Niks is vanselfsprekend nie

Related Articles

Back to top button