Almal het water nodig om te lewe

Die afgelope week of wat het verskeie gemeenskappe in ons omgewing met waterprobleme gesukkel.

Die afgelope week of wat het verskeie gemeenskappe in ons omgewing met waterprobleme gesukkel.

Inwoners van Blyvoor sit al vir meer as twee weke met hul hande in hul hare nadat Rand Water, op instruksie van die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit, hul water afgesny het. Intussen het inwoners van ‘n groot deel van Khutsong net so lank nie water nie. Hier het ‘n verskeidenheid probleme, wat die beskadiging van waterpype deur onwettige mynwerkers insluit, tot die waterprobleme gelei.

Inwoners van onder meer Welverdiend moes ook ‘n paar weke gelede vir ‘n paar dae sonder water oor die weg kom nadat die munisipaliteit dit tydelik afgesny het om ‘n gebreekte waterpyp te herstel. Tot onlangs was sulke ernstige waterprobleme goed waarvan die meeste inwoners net gelees of gehoor het. Verskeie dorpe in byvoorbeeld die swak-bestuurde Noordwes Provinsie sukkel nou al lank met waterprobleme omdat hul munisipale infrastrukture bykans in duie gestort het en hulle nie meer drinkwater kan skoonmaak of na huise kan pomp nie.

Gelukkig vir ons area kry ons ons drinkwater van Rand Water, wat volgens verskeie toetse van die skoonste water in die land lewer. Die probleme in ons area, behalwe vir Blyvoor waar die water doelbewus afgesny is, is egter met die infrastruktuur wat die water moet verskaf. Hierdie week berig ons byvoorbeeld oor gevaarlike sinkgate onder belangrike reservoirs wat ons area se watervoorraad bedreig, maar waaraan die munisipaliteit op die oog af nie veel doen nie.

Indien sulke probleme toegelaat word om voort te duur, sal meer inwoners dalk in die toekoms water moet begin aankoop om iets te hê om te drink en aan hul ander daaglikse behoeftes te voorsien.

Exit mobile version