Omgewingsgroep steun teenkanting teen mynplanne in die area
Vrees oor besoedeling van waterbronne en die negatiewe impak op inwoners se gesondheid neem toe.
VEREENIGING – Druk teen die voorgestelde steenkoolmynontwikkeling tussen Vereeniging en Meyerton neem toe.
Die omgewingsorganisasie Save, Serve and Protect Newcastle (SSPN) het nou ook sy stem by groeiende teenkanting teen die projek gevoeg.
In ’n verklaring waarsku die groep dat die myne verreikende gevolge kan hê vir die Vaalrivier se waterstelsel en omliggende gemeenskappe.
“Watersekuriteit is nie net ’n streeksuitdaging nie, maar ook ’n nasionale kwessie.”
SSPN doen ook ’n beroep op die regering om die goedkeurings vir die myne op te skort, en vra vir ’n onafhanklike hersiening van die omgewings- en watergebruikimpak.
Die organisasie voer verder aan dat inwoners se grondwetlike regte op skoon water en ’n gesonde omgewing in gedrang kan wees, en dat sterker interdepartementele samewerking en groter openbare deelname nodig is.
Die groep benadruk in die verklaring dat die risiko’s ten opsigte van grondwaterstelsels, riviergesondheid en openbare welstand nie aanvaarbaar is in ’n land wat reeds onder watertekorte gebuk gaan nie.
Volgens die organisasie wek die bestaande druk op die omgewing in die Vaaldriehoek reeds kommer, met luggehalte wat volgens hulle aanvaarde gesondheidsstandaarde oorskry, veral wat fynstofdeeltjies betref.
Die jongste ingryping volg nadat die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie vroeër vanjaar omgewingsgoedkeuring verleen het vir Glubay Coal se beplande steenkoolmynontwikkeling.
Die goedkeuring baan die weg vir die ontwikkeling van die Springfield-, Redan- en Vlakfontein-projekte, ondanks jare se openbare vergaderings en sterk teenkanting van inwoners in onder meer Arconpark, Roshnee, Waldrif en omliggende gebiede.
Inwoners het voorheen kommer uitgespreek oor moontlike waterbesoedeling, geraas, vibrasies, sowel as die impak op plaaslike erfenisterreine soos die Redanrotskunsgebied met tussen 200 en 300 rotsgravures (petrogliewe), wat vermoedelik uit die Laat Ystertydperk dateer.
