Vrese en fobies: Die feite

Is jy bang vir slange of dalk spinnekoppe, of raak jy angstig as jy jou huis moet verlaat? Is wat jy voel, ‘n vrees of ‘n fobie? En is daar ’n verskil? Die inligting kan jou vrae beantwoord.

Wat is ’n fobie?

Dit word beskryf as ‘n angsversteuring en kom gewoonlik voor as ’n volgehoue, onlogiese vrees vir ’n spesifieke objek of situasie.

Die persoon is bewus dat die vrees onlogies en onrealisties is, maar sal alles in sy vermoë doen om die situasie of voorwerp te vermy.

As hy nie uit die situasie kan ontsnap nie, ervaar die persoon intense ongemak of angs.

Die goeie nuus is dat ’n fobie behandel kan word, mits dit deur ’n kundige as sodanig gediagnoseer word en die toepaslike behandeling toegepas word.

Wat is vrees?

Vrees is gewoonlik gekoppel aan ’n spesifieke insident (soos ’n hond wat jou gebyt het en nou is jy bang vir honde) of iets realisties soos ’n virusepidemie.

Die vrees het dus ’n rede en kan dan ook op realistiese wyse hanteer word.

Drie hoofkategorieë van fobies

Spesifieke fobie. Die persoon is bang vir iets spesifiek, soos slange, hoogtes, nou plekke en so meer.

Sosiale fobie. Die persoon het ’n vrees vir ander mense of sosiale situasies.

Agorafobie. Die persoon is vreesbevange om sy huis of “veilige” plek te verlaat. Dit kan gepaard gaan met paniekaanvalle.

Simptome en diagnose

’n Diagnose moet deur ’n kundige en gekwalifiseerde persoon gemaak word. In dié geval sal die persoon na ’n psigiater verwys word wat die toepaslike medikasie sal voorskryf.

Gewoonlik sal ’n behandelingsplan opgestel word en sal die persoon ook leiding kry ten opsigte van leefstylkeuses, soos om gereeld te oefen, genoeg te slaap en gebalanseerd te eet.

Nog ’n manier van behandeling is blootstellingsterapie waar jy jouself “sistematies aan die fobie blootstel, terwyl jy jou liggaam leer om te ontspan”.

Die proses wat kan werk, maar moet met uiterste omsigtigheid hanteer word omdat dit tot meer angs kan lei.

’n Fobie kan nie met logika hanteer word nie – dit help dus nie om met die persoon of kind te redeneer daaroor nie. En dit het niks met intelligensie te doen nie.

Daar is nie ’n oornagoplossing nie en empatie en begrip is nodig.

Vir die volledige artikel en bronne, gaan na www.afrikaans.com

Exit mobile version