VAALPARK – Dit word die Olimpiese Spele van dans genoem. Die Dans Wêreldbeker 2025 wat in Julie in Burgos, Spanje gehou word. Die dansers van Georgina’s Dance Studio het vir die sesde maal gekwalifiseer om Suid-Afrika op die wêreldverhoog te verteenwoordig.
Hulle sien baie uit na die internasionale kompetisie. Daar word verwag dat by die 25 000 dansers van 66 lande gaan deelneem. Die fokus is op jong dansers van vyf tot 25 jaar en bied ‘n internasionale platform waar hulle hul passie en talent kan vertoon, asook die geleentheid om meer as 120 meesterklasse van danslegendes en beoordelaars by te woon.
Georgina’s Dance Studio se dansers gaan in die National Folklore, ballet en kontemporêre kategorieë deelneem. Ongelukkig is die kostes om te gaan deelneem baie hoog en werk omtrent R50 000 per danser uit, wat alles insluit van vlugte en akkommodasie tot die spandrag en registrasiefooie.
Georgina Jacobs, eienaar, afrigter en choreograaf van Georgina’s Dance Studio sê hulle wil graag al die dansers wat gekwalifiseer het saamneem Spanje toe.
Indien enige besighede of individue bydraes wil maak, kontak vir Georgina by 082 459 6356.
Verdere nuus van die dans studio is dat hulle op 28 Mei om 18:00 ‘n vertoning, GRACIAS: Gratitude to Dance, gaan opvoer by die Barnyard in Vereeniging.
Al die danse van Spaans tot ballet wat opgevoer is vir die Dance World Cup Qualifier 2025, sal opgevoer word. Toegang beloop R120 pp. Bespreek by barnyardvaal.co.za.