Local newsNewsNews

Geen gesplete hoefdiere by NAMPO 2026

Die departement herinner boere en die publiek dat dit 'n strafbare oortreding is om nie vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer aan te meld nie.

Die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het bevestig dat daar reeds 291 aktiewe gevalle van bek-en-klouseer in die provinsie aangemeld is. Van die grootste brandpunte is net buite die Vaal se grense.

Hieronder tel Viljoenskroon/Vredefort: 52 gevalle; Parys/Vredefort: 45 gevalle; Deneysville/Sasolburg: 43 gevalle en Cornelia/Frankfort: 27 gevalle.

Dié krisis het nou ’n direkte impak op die land se grootste landbou-ekspo, NAMPO Oesdag, wat van 12 tot 15 Mei buite Bothaville plaasvind.

In ’n eenparige besluit deur Graan SA, die NAMPO-komitee en verskeie telersgenootskappe, sal geen gesplete hoefdiere vanjaar by NAMPO Park toegelaat word nie.

Dit sluit beeste, skape, bokke en varke in. Volgens die organiseerders is dié stap geneem na deeglike risikobepaling om verdere verspreiding te voorkom.

“As beskermers van biosekuriteit kan ons nie die risiko loop om ’n platform te skep waar bedreigings nie doeltreffend beheer kan word nie,” sê Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdagkomitee. Kundige insette het bevestig dat selfs die strengste beheermaatreëls by ’n geleentheid van hierdie omvang nie die risiko van oordrag heeltemal kan uitskakel nie.

Hoewel van die krale dus leeg sal wees, gaan die res van die ekspo voort met streng veiligheidsmaatreëls.

Diere wat nie ’n risiko vir die verspreiding van die virus inhou nie (soos perde, honde en pluimvee) sal steeds toegelaat word onder streng biosekuriteitstoesig.

Alle voertuie en toerusting sal met aankoms deeglik ontsmet word.

Daar sal wel innoverende uitstalgeleentheid vir telersgenootskappe wees. Hulle word aangemoedig om kreatiewe maniere, soos digitale platforms en prestasiedata, te gebruik om hul genetika aan besoekers bekend te stel.

Besoekers

Maatreëls vir besoekers word tans verfyn om te verseker dat niemand onbewustelik die virus na hul eie plase terugneem nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button