Driehoek Fight Club swaai vuiste vir liefdadigheid

Om fondse vir liefdadigheid in te samel is soms 'n rowwe affêre

VANDERBIJLPARK. – Die eerste reël van Fight Club is, daar word nie daaroor gepraat nie. Wel, as mens kyk na die aftrek wat HS Driehoek se Joshua Boys fondsinsamelingsprojek gekry het, dan het ‘n paar mense hierdie goue reël oortree.

Maar die geldkoffers kla nie. Volgens die organiseerders van die DFC het die boksgevegte ‘n indrukwekkende bedrag geld vir liefdadigheid ingesamel. Die liefdadigheid van hulle keuse is die Villa Lubet Kinder- en Jeugsentrum in Vanderbijlpark.

Hoewel die skouspel vele hoogtepunte opgelewer het, is daar ook baie klem op veiligheid gelê. Daarom het die skool vir die bokskenner, Assie van Aswegen van die Blue Stallion Boxing Fitness Club nader getrek om ‘n veilige en professionele toernooi aan te bied. Die 15 gevegte het die toeskouers eindelose vermaak verskaf. “Dit was ‘n groot sukses.

Daar was ‘n handvol boksers wat baie potensiaal het. Ek het my hande as skeidsregter vol gehad,” skerts hy. In die gees van liefdadigheid en onbaatsugtige opoffering het Juandre Ward van die Nasionale Stoei Federasie en Jeat Sport Productions and Events die kryt bykans gratis verskaf.

Volgens Assie word daar in samewerking met Juandre ‘n groot boks- en rofstoeitoernooi vir die Vaaldriehoek beplan.

Exit mobile version