
Talle besighede het verlede week onder rowers deurgeloop, toe rowers meer as net inkopies gedoen het.
Op Donderdag, 20 April, omstreeks 16:00, het ’n inbraak in Hans Strydomlaan groot polisie teenwoordigheid gelok, maar geen verdagtes is in hegtenis geneem nie.
Een van die beamptes wat die toneel bygewoon het, het vertel dat die rowers blykbaar met ’n Quantum bus by die winkel gestop het.
“Die verdagtes het die winkel ingegaan en hulself as kliënte voorgedoen. Daar was vier verdagtes, en al vier was glo gewapen. Hulle het die slagoffer gevra vir geld, waarop sy gesê het dat sy niks het nie,” het die beampte gesê.
Die slagoffer het ook aan polisie vertel dat sy naderhand die geld in die kluis gaan haal het, want dit het gelyk of die rowers haar gaan seermaak. Na hulle die geld gevat het, het hulle haar ook glo beveel om op die grond te lê, waarna sy blykbaar vir hulle gevra het, hoekom? Sy het aan polisie vertel dat sy nie verstaan het hoekom sy moet lê nie, aangesien hulle reeds al die kontant in die winkel gevat het.
Die slagoffer het ook vertel dat sy opgestaan het na die rowers uit die winkel is en wou om hulp skree, toe sy ’n geweerskoot hoor afgaan het, nie ver van haar winkel nie.
“Ons het nie die doppie van die patroon gekry op die toneel nie,” het die beampte bygevoeg.
Daar word beweer dat die rowers met die Quantum en ook met ’n Avanza gevlug het. Geen nommerplate is tydens die voorval opgemerk nie. Die rowers is met ’n onbekende bedrag geld weg.

Polisie op die toneel waar ’n winkel in Hans Strydomlaan beroof is op Donderdag, 20 April.
Nog ’n inbraak het in Klarinet, Uitbreiding 6 plaasgevind op dieselfde dag, omstreeks 02:00.
Die slagoffer het aan polisie vertel dat hy by die hoofhek van die besigheid gesit het toe hy deur vyf onbekende mans gegryp en in ’n kamer toegemaak is. Hy het ook aangemeld dat ’n skootrekenaar, rekenaars en kontant gesteel is.
’n Derde inbraak het omstreeks 15:45 plaasgevind by ’n besigheid op die hoeke van Mandela- en Jellicoestraat.
Die slagoffer het vertel dat twee gewapende mans hom en sy kollega gedreig het met vuurwapens en hul ook beveel het om die kasregisters oop te maak. Al die kontant is in plastieksakke gegooi. Volgens die slagoffer, het die verdagtes net weer weggeloop asof niks gebeur het nie. Hulle is weg met ’n onbekende bedrag geld.
Op Maandag, 17 April het nog rowers die langnaweek op ’n ‘goeie’ noot afgesluit. Omstreeks 02:25 het rowers die beter van ’n ander besigheid in Walter Sisulustraat gekry. Die slagoffer het aan die polisie vertel dat hy en sy baas ’n maroen Nissan Juke opgemerk het en kort daarna het verdagtes die winkel se toe deure oopforseer.
Hulle het glo ook die slagoffer beveel om met sy hande op sy kop te sit en hom geskop op hul pad na die kasregisters toe. Hy het ook vertel dat hy ’n harde slag gehoor het, waarna hy besef het die kluis is opgeblaas. Die verdagtes is met ’n onbekende bedrag geld weg.
LEES OOK:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/58519/soveelste-inbraak-by-besigheid/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/57737/besighede-ly-skade-weens-inbrake/
