Local newsNews

Zandra se handige projek

Zandra Hampson se hande is altyd besig. Sommer so uit gewoonte sal haar vingers na die breinaalde gryp as sy niks het om te doen.

Dié vrou het ’n passie vir naaldwerk en het ’n paar maande terug begin met ’n projek om haar talente mee te deel.

Zandra woon al amper ses jaar in eMalahleni en het in 2012 met haar besigheid, Incredible Stitching, begin. “Daar is baie mense wat die werk kan doen in Pretoria en Johannesburg wie ek kon aanstel, maar ek wou eerder plaaslike mense kry.”
En in plaas daarvan om iemand aan te stel wie reeds die nodige vaardighede gehad het, het Zandra die taak aangepak om ’n paar minderbevoorregte vroue te leer hoe om naaldwerk en borduurwerk te doen.

Die eerste twee dames wat sy onder haar vlerk ingeneem het; Tuli Mokwena en Pinki Shabangu, was vinnig touwys gemaak hoe om met beide die naaldwerk- en borduurwerkmasjien te werk. “Tuli kon glad nie enige naaldwerk doen,” onthou Zandra dan en vertel dan trots hoe vinnig sy geleer het, nie net om naaldwerk onder die knie te kry nie, maar ook om uitstekende borduurwerk te doen wat baie moeiliker is. Tuli het in ’n paar maande baie vordering gewys en het haar vlerke gestrek om haar opleiding elders te benut.

Ivy Mahlangu is nou ’n nuwe gesig by Incredible Stitching en na twee maande werk sy met al die masjiene en vertel Zandra sy kan op haar staat maak.
“Die langtermyn doel vir my is dan ook om hul te bevorder. Soos ek groei sal hul dan ook,” het Zandra gesê en verduidelik dat as die besigheid groter word en uitbrei sy dan meer aanstellings kan maak en dan ook die eerste dames kan bevorder om weer self te help en ander op te lei. Só help Zandra dan ook om werksgeleenthede te skep.

Zandra is ook betrokke by die Vroue-Landbou Unie en het onlangs aangesluit by die Nocturne aand-tak. Wanneer haar hande moeg raak vir naaldwerk kan mens haar dikwels vind met ’n boek voor haar neus, voor sy weer bedrywig raak in die werkswinkel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button