Het jy die ongeluk gesien gebeur?
’n Familie is op soek na getuies van ’n ongeluk wat in Desember gebeur het.
Maandag 23 Desember ongeveer 09:30 is ’n 71-jarige man voor Standard Bank by Saveways Crescent raakgery.
Me. Sarie Nel het vertel dat haar man, mnr. Frik Nel uit Standard Bank gekom het toe hy deur ’n roomkleurige Kia gestamp is.
Die bestuurder van die Kia het gesê hy het Nel nie gesien nie.
Nel se beserings was van so aard dat hy vir vyf dae in intensief was en eers op Nuwejaarsdag uit die hospitaal ontslaan is. Sy linkerenkel is aan beide kante gebreek en die ligamente by sy knie is aan die een kant af.
“Vir Frik is die hele proses baie frustrerend. Ten spyte van sy ouderdom is hy ‘n baie aktiewe mens en die herstelproses vorder maar stadig,” het me. Nel gesê.
Nel se dogter, wat verkies om anoniem te bly het gesê, “Die hartseer van die hele affêre is dat die persoon wat hom omgery het, nie net die toneel verlaat het nie, maar nie eers een maal die moeite gedoen het om na sy welstand te verneem nie. Wat het van medemenslikheid geword? Pla dit hom glad nie dat hy ‘n ander mens deur soveel pyn, lyding en ongemak sit nie?”
Indien daar enige persoon is wat die ongeluk gesien gebeur het en die familie kan help om meer insig in die ongeluk te kry, word gevra dat hulle die familie skakel by 083 422 4830 of 072 249 1401.