Kruise en wrakke roep na oplossing
Die kruis met die vervaagde geel letters uitgekerf in hout, rus teen die lamppaal.
Om die kruis lê verstrooid die oorblyfsels van ’n voertuig – ’n onlangse wrak. Motoriste ry te vinnig verby om dié gesig te sien. Daar is ’n groot haas na iets in die lewe… maar daar is geen haas na die dood.
Na talle noodlottige ongelukke in OR Tambostraat, is ’n gemeenskap op soek na ’n oplossing om nog voorvalle te verhoed.
“Is die kruise langs OR Tambo rylaan nie ‘stille getuienis’ (genoegsame bewys) dat iets daadwerkliks gedoen moet word nie…” het me. Zelda de Reuck ’n paar weke gelede by die gesprek bygedra oor ‘spoedhobbels in OR Tambostraat’ op Looklocal.
Die idee van spoedhobbels in dié straat was na mening, van talle WITBANK NUUS lesers, die beste oplossing vir die probleem.
Mnr. Lebohang Mofokeng, woordvoerder van eMalahleni Munisipaliteit, het wel laas week gesê dat die verkeersdepartement eerder ten gunste is van ’n stopstraat (waar OR Tambo met Woltemadestraat kruis).

Lesers en motoriste hou egter steeds vol dat spoedhobbels die beter oplossing sal wees.
“Spoedhobbels is beter. Hoe hoër hoe beter. Stopstraat help nie. Kyk hoe ry hulle oor die stopstraat in Gordonweg sonder om eers spoed te verminder. Stem vir hobbels,” was me. Corrie Bezuidenhout se mening.
Me. Anita Botes het hiermee saamgestem en geskryf: “Spoedhobbels beslis! Dit keer die jaagduiwels wat so oor stopstrate jaag! Kan gerus sommer elke 500m spoedhobbels plaas in strate soos Andromeda, Steenkamp, Hans Strydom en OR Tambo. Mense weet glad nie wat dit is om by ‘n stop straat te stop of om by die spoedbeperking te hou nie. Maar let wel: maak seker daardie hobbels is duidelik gemerk.”
Mnr. Mofokeng het toe verduidelik hoekom spoedhobbels nie werkbaar is nie.
“OR Tambo is ’n Klas 2 pad of hoof arteriële pad wat op dieselfde vlak van belang beskou word as die N2, N3, N12, ensovoorts. Spoedhobbels is nie toelaatbaar op die tipe pad nie. Die spoedlimiet is 70km/h, so diegene wat die spoed oorskry moet dan vervolg word. Klousule 3.3 van die konsep verkeersbeheer toestel stipuleer dat die ‘beginsel filosofie in die evaluering van potensiële verkeerbeheermaatreëls gevare op paaie moet verhoed en nie die verkeer beïnvloed op hoofpaaie nie’.
Die algemene mening van die publiek bly dat daar iets drasties gedoen moet word om ongelukke te verminder.
