AdvertorialNews

Henry Hartslief: Die hart van Thaba

Die storie begin met ’n houtdonkie, ’n gesin se liefde en ’n dorp met hope onderontginde talent.

Toe Gwen Holtzhausen en haar gesin ’n paar jaar gelede ’n nuwe hoofstuk in Thabazimbi begin het, het sy nooit gedink dat sy vandag een van die kleurvolste en mees kreatiewe koffiewinkels in die dorp sal besit nie.

Die afgelope week het sy vir die eerste keer die deure van Henry Hartslief, die nuutste koffie- en kunswinkel in die dorp, oopgemaak en dit beloof om dié plek te word om die naweek af te skop.

Die vooraansig van Thabazimbi se nuwe kuierplek, Henry Hartslief. Daar is heerlike koffie en kunswerke van plaaslike kunstenaars.

Talle mense van Thabazimbi het op Saterdag 1 Mei saamgekom by Henry Hartslief om die amptelike opening saam met Gwen Holtzhausen en haar man, Reinhardt, te vier.

Dit was toe reeds duidelik dat die klein koffiewinkel nog baie gewild gaan word.

“Ons gesin het een jaar vakansie gehou in Beaufort-Wes en my kinders het vir my verjaarsdag vir my die oulikste houtdonkie gekoop. Toe ek die dag aan ’n naam moes dink vir my koffiewinkel, was Henry, die donkie, die eerste naam wat opgekom het,” vertel Gwen.

Wanneer ’n mens Henry Hartslief besoek, is dit maklik om verlore te raak in al die handgemaakte produkte en die gesellige atmosfeer, maar daar is soveel meer aan dié winkel as bloot nog ’n lekker kuierplek: Dit is die hartklop van die dorp met kuns en kreatiewe produkte wat gemaak word deur verskeie kunstenaars van die omgewing.

Gwen Holtzhausen knip die lint met die amptelike opening van hul nuwe koffiewinkel.

Vir Gwen is die koffiewinkel haar trots; nie net omdat sy en haar gesin dit saam begin het nie, maar omdat sy deel kan wees van iets groter en ’n nalatenskap vir die dorp.

“Ons het baie mense wat vreeslik kreatief is in die dorp, vertel sy. Ek verkoop byvoorbeeld hier gehekelde komberse wat deur ’n ou oom in Rooiberg gehekel word. Dit was vir my vreemd om ’n man te sien hekel, maar hy is voorwaar ’n meester op dié gebied,” het sy gesê.

Maak gerus ’n draai by Henry’s om vir die spesiale mammas ’n geskenk te koop en ondersteun plaaslike kunstenaars.

Related Articles

Back to top button