Crime

Hou jou geld styf vas

"Die skelms se werkswyse is steeds dieselfde. Iemand skakel die slagoffer en sê dat hulle van sy of haar bank af skakel. Op slinkse maniere bekom hulle toegang tot jou bankrekening."

Die skok om telefonies te hoor dat iemand groot bedrae geld uit jou bankrekening onttrek, sal enige iemand laat rittel en beef. Só groot dat jy nie twee keer dink as die “bank” jou skakel en sê wat jy moet doen om dit te verhoed nie. Soos om jou geheime kode – wat jou bankrekening veilig moet hou – vir hulle aan te stuur nie.

Dit is juis dié skrikmaak-truuk wat bedrieërs gebruik om derduisende rande uit mense se rekeninge te onttrek.

Verskeie inwoners in Modimolle, meestal afgetredenes, het reeds deurgeloop.

AO. Eugene Clarence van die Modimolle-polisie sê dat, ten spyte van herhaalde waarskuwings, mense steeds hul “one time pin” oftewel OTP-nommer telefonies gee wanneer bedrieërs hulle bel.

Dit is ’n nommer wat die bank na jou selfoon toe stuur per SMS om ’n transaksie goed te keur.

“Die skelms se werkswyse is steeds dieselfde. Iemand skakel die slagoffer en sê dat hulle van sy of haar bank af skakel. Hulle klink baie professioneel en kan selfs belangrike persoonlike inligting gee soos hul adres en ID-nommers. Hulle sê dat hulle van die bank se bedrog-afdeling is en dat daar ’n verdagte transaksie op die slagoffer se rekening was. Hulle kan dit keer indien die slagoffer die OTP-nommer wat na hul selfoon toe gestuur word, vir hulle telefonies lees,” het Clarence gesê. “Wanneer hulle daardie nommer het, het hulle toegang tot jou bankrekening en kan geld onttrek en oorplaas. In ’n onlangse geval in Modimolle het die bedrieërs R5 000 via CashSend gestuur, meer as R2 000 by ’n supermark bestee en amper R10 000 by ’n OTM onttrek. Dit is haas onmoontlik om hulle vas te trek, want hulle kan op enige plek in die land sit. Met CashSend kan geld na ’n selfoon enige plek gestuur word.”

Hy raai inwoners aan om onmiddellik die oproep te beëindig indien iemand hulle vra om hul besonderhede en OTP-nommer te gee.

“Skakel dan jou bank se bedrog-afdeling en vra dat hulle jou kaart tydelik sluit.”

Enige inwoner met inligting of wat op soortgelyke wyse geld verloor het, kan AO. Clarence skakel by tel. 082 451 7177.

Related Articles

Back to top button