Local news

Woordkunstenaar verloor die stryd

Een van Hoërskool Warmbad se leerkragte van weleer, het op Saterdag 6 April haar stryd teen die vernietigende Alzheimer-siekte verloor.

Martie Raubenheimer (78) wat van 1994 Afrikaans Huistaal onderrig het vir die matrieks, is vroeg Saterdagoggend in Rusoord Tuiste vir Bejaardes in Bela-Bela oorlede. Sy was sedert Februarie 2022 ’n inwoner daar.

Die taal-puris het in Alberton aan die Oos Rand skoolgegaan en was die hoofmeisie van Hoërskool Alberton. Sy het na skool onderwys gaan studeer aan die Heidelberg Onderwyskollege.

Sy is in Maart 1969 met Raubie Raubenheimer getroud en hul het onlangs hul 55ste huweliksherdenking gevier. Drie kinders is uit die huwelik gebore.

Sy het baie jare Afrikaans aangebied by Hoërskool DR. Malan in Meyerton. In 1994 het hul na Warmbad (nou Bela-Bela) verhuis en het die skool baie gou te hore gekom van die bekwame Afrikaanse onderwyser wat in die dorp woon.

Die leerders wat by haar in kamer 62 klas gekry het, het geweet hierdie is ’n juffrou wat weet waarvan sy praat. Sy het haar kundigheid by vele fasette van die skool se aktiwiteite ingespan.

Martie het ook vir twee jaar Die Pos geproeflees op ’n Woensdag. Haar rooipen was welbekend en haar taalvermoë was briljant. Sy het in 2014 die tuig neergelê en tyd saam met haar gesin gespandeer en die land vol gereis. Haar tuin was ook ’n lushof, maar dit was uit die kombuis wat sy almal bederf het, met smul geregte en gebak.

Sy laat haar man Raubie, (vorige eienaar van Warmbad Produce), haar seun Stefan en dogter Nelmari na. Haar oudste dogter, Ilse is reeds oorlede.

Haar gedenkdiens word op Saterdag 13 April, om 11:00 in die NG Moedergemeente in Bela-Bela gehou.

Haar raaksê kwinkslae is nou stil maar sal lank weerklink.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button