Quantum bende slaan weer toe

Die groep wat twee weke gelede deur ’n Quantum bussie afgelaai en die weerlig se harde slae gebruik het om ’n motorhuisdeur oop te breek, het wéér toegeslaan.

Dié keer het hulle aangeneem die CCTV kameras werk nie en het onder helder buiteligte doodluiters tot by die motorhuisdeur geloop en probeer om die deur af te breek.

Me. Retha Naudé sê hul CCTV videokameras se tyd is so bietjie uit en wys dat hulle kort na 02:30 (vroeë oggendure) Saterdag toegeslaan het. Dit was egter net na 03:00.

Alhoewel dit nie op die videomateriaal is wat gestuur is nie, noem sy dat hulle later gesien het hoe ’n minibus (waarskynlik ’n Quantum bussie) eers verbyry en dan terugkom om te stop om die vier boewe af te laai.

Die man in blou kyk in die rigting van die kamera, onbewus daarvan dat die kamera werk.

Hulle stel verspot-maklik die palissadehek buite aksie en skuif dit oop, waarna hulle direk na die motorhuisdeur stap waarbinne die gesin se motorfiets is.
Me. Naudé vermoed die booswigte het hulle dopgehou om te kon weet aan water kant van die motorhuis die motorfiets is.

“Ek het nog gewonder wie die motorfiets sou wegry, sou hulle in die motorhuis ingekom het, maar daar is vir my vertel dat hulle die minibus se sitplekke uithaal om die motorfiets daar in te laai.”

’n Mens sien hoe die vier betreders met al hulle mag die motorhuis probeer afbreek. Die videomateriaal wys ook hoe die stof trek, wanneer die binnehaak van die motorhuis afbreek.

Die oomblik toe die haak breek, het die alarm afgegaan en het Mid Alarms dadelik die egpaar gebel. Daar is vir hulle gesê dat dit die alarm in die motorhuis is wat afgegaan het.

Een van die vier mans het ’n masker gedra, maar die ander drie het sonder maskers doodluiters in die helder verligte erf aangestap gekom.

Me. Naudé se man, Eddie, het saggies die voordeur oopgemaak en agter die veiligheidshek na buite geloer.
Op hierdie selfde tydstip het die minibus, met die verdagtes wat reeds in die bussie gespring het, weggetrek.

• Mid Alarms se reaksielede was binne minute op die toneel en kort daarna het die polisie opgedaag. Alhoewel die vingerafdruk-eenheid ook later die oggend daar was, is dit duidelik aan die videomateriaal dat die boosdoeners handskoene gedra het.

• Daar is ’n saak by die polisie geopen en as enigiemand die groep herken, word gevra dat hulle dit aanmeld by die Middelburg Polisiestasie.

Lees ook:

Inbrekers gebruik weerligslae om motorhuisdeur te breek

@middelburgobserver

Break-in by Sand Street. Four thieves break into someone’s garage in Aerorand. These same four criminals are believed to have broken into garages all over Middelburg #crime #southafrica #middelburg

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Exit mobile version