Kinderbeskermingsweek: Meer as 700 kinders in 3 jaar deur smouse ontvoer

Nasionale Kinderbeskermingsweek vind vanjaar plaas vanaf 28 Mei tot 4 Junie.

Wanneer dit by gevare rondom mensehandel kom, hou onbeperkte toegang tot sosiale media die grootste gevaar in.

So sê Dr. Ronel Aylward, algemene bestuurder van die CMR Noord.

Die handel in kinders is vanjaar deel van die fokus van Nasionale Kinderbeskermingsweek wat vanaf 28 Mei tot 4 Junie gehou word.

Vanjaar se week is op 19 Mei deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, in Kimberley geloods. Die week is die eerste keer in 1997 gehou.

Tussen Desember 2007 en Januarie 2022 is ’n beraamde 11 077 mensehandelgevalle aan die Suid-Afrikaanse Polisie gerapporteer.

Minister Bheki Cele het die parlement in September 2021 ingelig dat tussen 2018 en 2021 was 781 gevalle van mensehandel aangeteken waarby kinders betrokke was.

Aylward sê as ’n organisasie bekamp hulle mensehandel deur op bewusmaking oor die bekamping daarvan by skole te fokus.

“Ons kweek by kinders die bewyssyn om sulke situasies wat tot moontlike mensehandel kan lei, te herken, te hanteer en sover as moontlik te vermy,” verduidelik Aylward.

LEES: Sleutelpunte in metro beveilig tydens verkiesing

Daar is ’n paar geleenthede waar kinders blootgestel kan word aan mensehandelbedrywighede.

“Ouers moet altyd seker maak dat kinders hul nie sonder toesig of alleen in openbare plekke bevind nie, kinders moet betyds by die skool gehaal word. Ouers moet ook kinders weerbaar maak om hulle te beskerm teen dwelmmisbruik. Dwelms is dikwels die vangnet van mensehandelaars,” maan sy.

Sy glo egter die gesonde balans moet gekry word om kinders hierteen te waarsku sonder om hulle oor angstig te maak.

“Om nie self daaroor angstig te wees nie, is ’n goeie beginpunt. ’n Sterk en emosioneel gesonde verhouding met die kind, sal hom of haar ook emosioneel sterker maak vir meer subtiele slaggate,” doen sy aan die hand.

Sy glo indien feite en waarskuwings in ’n emosioneel veilige atmosfeer gedeel word, sal dit ook die angs by die kind verminder.

“’n Ouer kan dalk ook ’n film met mensehandel as ’n tema saam met hul kinders kyk en dit dan sodoende gebruik as ’n aanknopingspunt om die onderwerp met hul kinders te bespreek,” gee sy raad.

Aylward glo nie aan oorgerustheid nie.

“Weerbaarheid kan altyd verbeter word omdat die risiko orals daar is. As SAPD meer moeite doen om dwelmhandel te bekamp, sal hul direk en indirek positief bydra tot die weerbaarheid van die gemeenskappe waarin hulle werk,” merk sy op.

Die nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling raai enige persoon aan wat bekommerd is oor die behandeling van kinders om in aanraking te kom met Childline op 0800 055 555 of Child Welfare South Africa 011 452 4110 of info@childwelfare.org.za

– Kliek hier om ’n veldtog van Missing Children South Africa te sien oor hoe kinders teen blootstelling op sosiale media beskerm kan word: https://www.facebook.com/reel/1125520758619484

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version