Local newsNews

Sleutelpunte in metro beveilig tydens verkiesing

Beveiliging van stemlokale en sleutelpunte is deel van die metro en polisie se operasionele plan vir verkiesingsdag.

Daar is 29 sleutelpunte in Pretoria geïdentifiseer wat voor en tydens die verkiesing op 29 Mei as deel van ’n nasionale sekuriteitstrategie beveilig sal word.

Só sê die burgermeesterslid vir Veiligheid en Sekuriteit, Grandi Theunissen, tydens ’n paneelbespreking van die Pretoria Sakekamer rondom vooruitsigte oor die verkiesing op 29 Mei.

Om veiligheidsredes kan Theunissen nie meer besonderhede rondom sulke punte gee nie.

Hy lê klem daarop dat die metro weer rondom die verkiesing sal kan staatmaak op die hulp van veiligheidsmaatskappye, soos met die munisipale staking teen die einde van 2023.

Die leiermandaat vir die verkiesing op veiligheidsvlak is in die polisie gesetel.

“’n Aantal van 64 maatskappye in Pretoria wat in veiligheid en sekuriteit spesialiseer, het tydens die staking gehelp toe infrastruktuur aangeval is en die polisie ons in die steek gelaat het,” sê Theunissen.

Die metropolisie sal op die dag van die verkiesing stemme wat reeds uitgebring is, na sentrale punte vervoer asook vooraf stembriewe na kieslokale neem.

Theunissen het goeie moed vir die bestuur van die veiligheid en sekuriteit van die metro, metro-infrastruktuur, stemlokale en sy inwoners tydens die verkiesing asook in die toekoms.

Drie nuwe adjunkte in die Departement van Veiligheid en Sekuriteit gaan binnekort aangestel word. Die drie poste is reeds vakant.

“Die herstrukturering van die metropolisie is nou ’n werklikheid en kundiges met die regte kwalifikasies sal aangestel word,” sê hy.

verduidelik die metro is in sewe streke verdeel vir polisiëring van openbare geweld.

“ANC-raadslede het my reeds geraadpleeg oor veiligheid in hul wyke op verkiesingsdag en ook daar sal ons ’n ondersteunende diens tot die beveiliging van die polisie lewer,” sê Theunisssen.

Die metro het reeds operasionele planne met die nasionale operasionele spanne van die polisie rondom verkiesingsdag bespreek.

“Ons is so voorbereid soos wat mens moet wees,” sê Theunissen.

Oor die moontlike uitwerking van die verkiesingsuitslae op plaaslike vlak, sê Theunissen die koalisieregering in Tshwane het die politieke wil om die metro se swak finansiële posisie om te draai.

Hy skep moed uit die feit dat die ANC die metro se begroting ondersteun het.

“Ons het sukses in Tshwane met die koalisieregering verkry omdat ons ’n manier gekry het om verskille aan te spreek en daar telkens ’n mediator van ’n party na vore getree het om geskille by te lê. Die waarde van ’n koalisieregering is dat so ’n regering op welke vlak bring redelikheid na vore,” verduidelik Theunissen.

’n Onafhanklike politieke kommentator op die paneel, Theuns Eloff, glo daar is ’n moontlikheid van ’n koalisieregering op nasionale sowel as provinsiale vlak na die verkiesing.

Eloff wys uit dat die ANC volgens die jongste meningspeilings nie 50% van die stemme landwyd in die nasionale sowel as provinsiale verkiesing sal kry nie en na koalisievennote sal moet soek.

“Ons staan op die vooraand van ’n waterskeiding. Hierdie jaar is so belangrik vir die land soos wat 1994 was. Daar is soveel op die spel,” sê Eloff.

Hy glo die Onafhanklike Verkiesingskommissie het gesofistikeerde stelsels in plek om korrupsie tydens die verkiesing te beperk.

Op ekonomiese gebied het Eloff goeie nuus vir sakelui.

“’n Sterk koalisieregering sal die ekonomie ’n hupstoot gee. Die Rand is klaar aan die versterk oor die moontlikheid van so ’n koalisie,” sê hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button