Pretoria mag dalk bekend wees vir sonlig en Jakarandabome, maar onder die oppervlak worstel baie inwoners met talle sosiale en maatskaplike uitdagings.
Van alleenheid tot boeliegedrag en bitterheid: hierdie is die égte uitdagings wat Pretoria se mense daagliks moet hanteer.
Hierdie kwessies het duidelik geblyk uit GROOTfm 90.5 se 24-uur GROOT Biddag op 24 April toe luisteraars van regoor Pretoria gebede vir hul uitdagings kon vra.
“Pretoria het hoop nodig. Maar ons kan nie net mooi dinge sê nie. Ons moet die uitdagings ook aanspreek,” sê Roelien Potgieter, GROOTfm se stasiebestuurder. “As ons nie praat oor die pyn in ons gemeenskappe nie, gaan ons dit nie genees nie.”
Die temas wat tydens die dag geopper is, het ontstaan uit meer as 700 gebedsversoeke van 2024.
Hierdie versoeke het ’n hartseer prentjie geskets van Pretoria-in-nood: Mense voel alleen, kinders word groot sonder vaders, huwelike word beëindig, en talle mense weet nie meer wie of wat hulle kan vertrou nie.
Volgens motiveringspreker en voormalige sportsielkundige van die Blou Bulle, Jannie Putter, is alleenheid een van Pretoria se grootste sosiale probleme.
Hy het ’n spreekbeurt tydens die 24-uur op lug gehad.
“Mense weet nie meer hoe om hulself te deel nie. Baie het seer gekry in families en dit maak hulle bitter. Hulle sluit hulle harte toe.”
Hy glo die oplossing begin by bewuswording van mekaar se alleenheid, hoe jy jouself teenoor mense uitdruk en gebed.
“As jy jou alledaagse gesprekswoorde verander, verander jy jou wêreld. Elke ding wat ons sê dra krag. ’n Grap wat seermaak, ’n frase wat afbreek. Alles kan dra by tot die vervreemding van mense,” glo Putter.
Dis nie net volwassenes wat sukkel nie. Pretoria se tieners dra ook swaar.
Adjunkhoof Mariëtta du Plooy van Hoërskool Montana sê die emosionele las op kinders is groot, veral wanneer dit by boeliegedrag kom.
“Ons het by die skool saamgebid met die omroepers, leerlinge en personeel, oor die uitdagings wat ons leerders daagliks vrees. Jy kan sien dit raak hulle diep.”
Een van die mees bespreekte onderwerpe was die epidemie van vaderloosheid: kinders wat grootword sonder pa’s, of met pa’s wat afwesig is in hul lewens.
Hierdie maatskaplike werklikheid in Pretoria was deel van verskeie gesprekke tydens die Biddag, saam met temas soos egskeidings, ontrouheid en die soeke na gesinsgenesing.
“Ek wil hê my kinders moet eendag kan vra: ‘Wat het Ma gedoen vir Pretoria?’ en ’n antwoord kan kry,” sê Potgieter. “Ek wil hulle kan wys ons het hoop geskep. Dis hoekom hierdie gebedsdag so belangrik is.”
Tydens die 24-uur uitsending is meer as 1 000 versoeke vir gebed ontvang. Die radio-span het saam met geestelike leiers en groepe van kerke vir elke versoek gebid.
Die versoeke word nou verder hanteer, met uitreikspanne wat met luisteraars kontak maak om ondersteuning te bied.
Bekendes soos sanger Riana Nel, avonturier Riaan Manser, huwelikskenner Liezel van der Merwe en motiveringspreker Karien Basson het almal raad gegee om hierdie uitdagings te hanteer.
Sonet Stofberg, skakelbeampte, het dit so gestel: “Gemeenskappe word nou aangemoedig om hul eie gebedsaksies te begin: by skole, besighede, of selfs net in ’n buurtgroep.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.