Tydelik verlamde man loop wéér

Guillain-Barré-sindroom het vir Bruce ongeveer drie maande in 'n rolstoel gelaat.

‘n Man van Geduld wat vir ongeveer drie maande weens Guillain-Barré-sindroom van ‘n rolstoel afhanklik was, begin stadig maar seker weer loop.

“My spiere is nog bitter styf en voel soms in ‘n mate nog lam, maar dit is ‘n wonderlike gevoel om weer te kan loop.”

Die Advertiser het vroeër oor Bruce Piek (60) se seldsame siekte berig nadat hy skielik verlam geraak het en bewusmaking daaroor wou skep. (Tydelik verlamde Geduld inwoner skep bewusmaking).

Guillain-Barré-sindroom (GBS) is ‘n seldsame neurologiese afwyking waar die liggaam se immuunstelsel die senuweestelsel verkeerdelik aanval, wat spierswakheid en verlamming veroorsaak.

Die presiese oorsaak van GBS is onbekend, maar dit kan vermoedelik deur infeksie, chirurgie of inentings veroorsaak word.
Volgens Bruce het hy geen mediese behandeling gehad wat moontlik tot dié seldsame afwyking kon lei nie.


LEES OOK: Enderun College takes part in World Book Day festivities


Nadat hy vroeër in Februarie met hierdie siekte gediagnoseer is, het sy lewe onherroeplik verander. Hy het by die dag meer agteruitgegaan en het ook al hoe meer afhanklik van ander geraak.

Hoewel sy liggaam nie meer reg wou funksioneer nie en hy binne enkele dae sy onafhanklikheid kwyt was, het Bruce nie toegelaat dat dit hom onderkry nie en sy positiewe gesindheid het hom daagliks gedryf.

Hy het destyds met sy diagnose by ‘n Facebook-groep aangesluit waar talle GBS-pasiënte hul ervarings deel, en volgens hom is die meerderheid se herstelproses baie stadig. Op 31 Maart het alles egter vir hom verander toe hy sy eerste tree gegee het.

“Aanvanklik was ek bang omdat ek baie pyn ervaar, maar toe ek eers opstaan en besef dat my spiere steeds sterk genoeg is om my bo te hou, was daardie eerste tree makliker as wat ek gedink het,” vertel hy trots en voeg by dat sy sterk wilskrag ‘n groot rol in sy spoedige herstel gespeel het.


LEES OOK: ESDA nursing graduates honoured for commitment and compassion


Bruce spog ook dat dit vir hom die lekkerste is om weer self badkamer toe te gaan.

“Ek loop ook weer na my kar toe en bestuur al self, alles dinge wat my weer my vryheid en onafhanklikheid teruggee.”

Hoewel Bruce baie meer mobiel is as ‘n paar weke gelede, is daar steeds sommige dinge waarmee hy sukkel.

Volgens hom loop hy soos ‘n stokmannetjie, wat dit vir hom moeilik maak om onder meer trappe te klim. Bruce is sterk in sy geloof geanker en sy positiewe ingesteldheid is aansteeklik.

Hy sluit af met: “My spoedige herstel is ‘n getuienis dat wonderwerke nog elke dag gebeur.”

Exit mobile version