Die vakansiedae raak bietjie rof

RUBRIEK - So is al die vakansiedae ook vir eers verby, maar verlede Dinsdag was alles nog ietwat deurmekaar, veral met die Spertyd vroeër op hande

RUBRIEK – Dis ‘n annerste dag. Die Dinsdag wat pure blou Maandag voel. Oor die spertyd wat alweer geskuif het. Spertyd is ‘n vreeslike monster met ‘n skerp swaard wat heeldag joernaliste se koppe wil afkap. So erg is dit!

Een dag minder om aan artikels te werk en dit boonop terwyl die skole, die bron van vele van my stories, gesluit is. Dis genoeg om my kopseer te gee. Die eerste ding wat skeeftrek is die gebrek aan my dagboek in my werksak.

Ek grawe verwoed, maar al wat wel daarin is, is my sambreel. Natuurlik sal ek ‘n sambreel by my hê op ‘n dag waar daar nie ‘n wolkie in die lug is nie.

Die werksdag gaan aan, maar kort-kort wil ek iets neerskryf of afmerk in my dagboek en daar is net ‘n gat op die tafel waar die boek gewoonlik lê. Ek weet slimfone het kalenders wat ingespan kan word om alles te skeduleer en te reguleer, maar dit werk nie vir my nie.

Tussen artikels sny ek gou ‘n lyn om my dagboek te gaan haal. Die staan toe mooitjies regop in my kas waar ek altyd my werkgoed bêre. Moes uitgeval het of dalk het daai monster van ‘n Spertyd dit aspris regop laat staan. Hoe sal ek nou weet?

Terug in die kantoor, kry ek ‘n verrassing. ‘n Bordjie met ‘n koeksister en ‘n kleurryke kolwyntjie staan op my tafel. “Wat vier ons?” vra ek so oor my skouer, in die rigting waar die Admin-span sit.

“André (dis nou die man aan die stuur van die koerante se verspreiding) se seun verjaar en hy het vir ons gebring,” kry ek antwoord. Ek gaan maak eers koffie. Byt dan die koeksister dat die soet ‘n smaakontploffing in my mond maak.

Vir ‘n wyle vergeet ek al die dag se goete en geite. Die stories wat nog gepleeg moet word voor die klok 16:00 slaan. Die sjokolade kolwyntjie los ek vir laaste. Drink eers my koffie. Happie vir happie. Soet. Soeter. Soetste.

Gesondheidsgewys seker nie die beste manier om ‘n werksweek af te skop nie, maar daar is in alle geval niks normaal aan ‘n week wat op ‘n Maandag en ‘n Donderdag vakansiedae het nie.

Boonop verjaar die redakteur 29 April. Dus was die koeksister vir my stresvlakke, die koffie om energie vir die  middagskof te kry en die kolwyntjie vir Elsje, die beste-este (soos my mede-Karliener Tokkie altyd gesê het) redakteur wat daar is!

Exit mobile version