VEREENIGING – Michelle Preston (née Spies) is nie ‘n vreemdeling vir uitdagings nie.
Op agtjarige ouderom is sy met Stargardt-makulêre degenerasie, ‘n siekte wat die sentrale sig benadeel en dit moeilik maak om duidelik te sien wat reg voor haar is, gediagnoseer.
Op 33-jarige ouderdom, het sy pas ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in die 5 000m (T13) vir vroue opgestel by die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Fisiek Gestremdes (SASAPD) se nasionale kampioenskap in Port Elizabeth – ten spyte daarvan dat sy net 4% direkte sig het.
Sy het die vorige Suid-Afrikaanse rekord van 10:39 tot 18:57 verbeter.
Die pad tot hierdie ongelooflike prestasie is gebou op geloof, deursettingsvermoë en ‘n liefde vir hardloop.
“Ek het ‘n paar rebelse jare gehad waar ek my gestremdheid nie wou aanvaar nie en bitter jammer vir myself gevoel het,” bieg sy.
“Maar deur God se genade het ek die groter prentjie begin sien.”
Michelle het aanvanklik haarself ook nie as ‘n “regte” hardloper gesien nie.
Alles het egter verander toe ‘n vriendin haar oorreed het om een Saterdag saam te gaan draf by ‘n plaaslike klub.
“Ek het gedink ek gaan net my kop laag hou, bietjie draf en stil-stil padgee,” vertel sy.
“Maar toe gebeur iets anders. Die mense was vriendelik, en daar was geen druk nie. Dis asof hardloop vir hulle meer as oefening was – amper soos terapie.”
Vandag is hardloop ook deel van Michelle se lewe. Dit bied aan haar ontvlugting en ‘n geleentheid om meer tyd met haar Skepper te spandeer.
Deur die jare het sy haar afstande opgebou, beserings oorkom en soms amper opgegee. Maar iets het haar altyd teruggetrek.
In 2023 het sy haar eerste Comrades Ultramarathon aangepak en in ‘n tyd van 10:23:56 voltooi.
‘n Jaar later het sy teruggekeer en haar persoonlike beste tyd vir die moordende wedloop met ‘n indrukwekkende drie ure verbeter.
Hoewel sy tydens dié wedloop talle uitdagings in die gesig gestaar het, het sy hierdie keer met ‘n ongelooflike tyd van 7:34:31 klaargemaak en die gesogte silwer medalje met slegs ‘n paar minute gemis.
“Ek het ‘n sielkundige muur getref, my horlosie het gevrek en ek het amper verkeerd gehardloop. Toe bid ek. Skielik bied ‘n man, Surprise, aan om saam te hardloop. Dit was asof my gebede verhoor is.”
Michelle werk bedags as ontvangsdame by Afrimat.
Met ‘n 2:57-marathon onder die belt (en dus ‘n goeie plasing by vanjaar se Comrades Marathon) droom Michelle nou ook van die Paralimpiese Spele.
“Hardloop is my tyd saam met God,” sê sy.
“Alles lyk mooi wanneer ek hardloop. En ja – ek gaan daardie silwermedalje nog kry!”