Holly se nalatenskap van oorwinning en toewyding

Sy gaan nou aftree

MEYERTON – In ‘n wêreld waar dienshonde dikwels as helde agter die skerms funksioneer, is Holly se verhaal ‘n merkwaardige voorbeeld van toewyding, oorwinning en onvoorwaardelike liefde.

Dié lojale viervoetige metgesel het nie net die lewe van Lize Marais veiliger gemaak nie, maar was ook haar konstante steun deur haar akademiese reis aan die NoordwesUniversiteit se Potchefstroomkampus.

Op 16 April het Lize haar onderwysgraad ontvang – met Holly aan haar sy, net soos die afgelope ses jaar.

Dit was egter ‘n bittersoet oomblik, aangesien die gradeplegtigheid ook Holly se laaste openbare verskyning was voordat sy amptelik aftree.

Lize, ‘n oud-leerling van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, is kort voor haar eerste verjaardag met Tipe 1-diabetes gediagnoseer.

Deur die jare het sy ernstige gesondheidsuitdagings in die gesig gestaar, insluitend gevaarlike hipoglukemiese aanvalle.

Op soek na ‘n veiliger en meer onafhanklike leefwyse vir haar dogter, het Lize se ma in 2018 op Holly afgekom fgekom – ‘n reddingshond wat ná 18 maande se intense opleiding haar mediese dienshond sou word.

Holly se unieke vermoë om bloedsuikervlakveranderinge te ruik en Lize tot 30 minute voor haar glukosemeter te waarsku, het letterlik haar lewe gered.

Die koste van sowat R50 000 vir Holly se opleiding en verkryging is deur Lize se selfhelp poging befonds – ironies genoeg deur fudge te verkoop, iets wat haar steeds laat glimlag as diabeet.

Die opleiding is verskaf deur Lucy Breytenbach van Medical Alert Dogs SA, ‘n organisasie wat spesialiseer in mediese dienshonde in Suid-Afrika. Gedurende haar tyd aan die NWU was Lize en Holly ‘n bekende gesig op kampus.

Dosente en medestudente het Holly met ope arms verwelkom, en die universiteitsgemeenskap het ‘n veilige ruimte geskep waarin Lize kon floreer. Met Holly wat nou byna 10 jaar oud is en haar welverdiende aftrede nader, het Lize reeds begin om haar nuwe dienshond, Nova – ‘n lewendige pitbull-hondjie van net oor die jaar oud – op te lei.

Lize het haar op sewe weke oud gekry, en Nova is reeds besig om in haar groot skoene te groei.

Lize gee tans skool by Vereeniging Gimnasium en sien uit na die nuwe uitdagings wat voorlê – met Nova aan haar sy, gereed om die volgende hoofstuk in haar lewe saam aan te pak.

Exit mobile version