Groot verdriet na honde se gifdood

“Ons kon duidelik op die bure oorkant, se sekuriteitsvideo’s sien hoe vier mans in ons blomtuin buite die muur wegkruip en iets oor die muur na die honde gooi."

VEREENIGING. – Na weke van groot hartseer en baie trane is daar weer ‘n bietjie blydskap in die Potgieter-huishouding in Sonlandpark. Die gesin het twee babahondjies gekry nadat hul geliefde drie honde verlede maand vergiftig is.

Mev. Monica Potgieter sê dat hulle die oggend van 3 April ontdek het dat hul honde, Scamp, Gino en Coco, dood is. Dit was duidelik dat aldrie vergiftig is.
“Gino was ‘n Bostonterriër-kruising, Scamp ‘n toypom en Coco ‘n Engelse Bulldog. Hulle was kwaai honde wat vinnig vir vreemdes geblaf het,” sê sy.

“Ons kon duidelik op die bure oorkant, se sekuriteitsvideo’s sien hoe vier mans in ons blomtuin buite die muur wegkruip en iets oor die muur na die honde gooi. Ons het besef dat dit die gif moes gewees het.
“Die verdagtes, in swart geklee, het by ons hek probeer inkom maar kon nie daarin slaag nie. Hulle het net skade aangerig. Daarna is hulle na die bure, waar hulle die hek oopgekry en hul Polo gesteel het. Die diewe was sowat 45 minute in die bure se erf voordat hulle die Polo straat-af gestoot het. Ander bure verder in die straat, se honde is ook vergiftig,” sê Monica.

Dit was egter nie die einde van die misdadigers se nagtelike bedrywighede nie.
“Woensdag, 23 April, het ons wéér onraad met ons hek vermoed. Dit wou nie oop en toe nie en ons moes dit ontkoppel. By nadere ondersoek het my man gevind dat die hek se ‘limits’ gedurende die nag verdwyn het. Ons het Sekuriteit Sonder Grense gekry om dit te herstel, en het die beheerkamer van die gebeure vertel sodat hulle nog meer bedag op sulke nagtelike ongerymdhede kan wees. Elize Aucamp, die DA se gebiedsverteenwoordiger, is ook in kennis gestel.”

Hoewel die hele gesin baie hartseer is oor hul drie honde se dood, is dit veral hul tienerseun, Waldo, wat die tragedie moeilik verwerk het.
“Ons het vir hom twee nuwe babahondjies gekry; Max, ‘n Bostonterriër, en Kita, ‘n mopshond (pug).
Dié twee aktiewe hondjies hou Waldo goed besig en hy kan selfs weer ‘n bietjie glimlag.
“Ons het nog altyd veilig in Sonlandpark gevoel, maar dit is duidelik nie meer die geval nie,” sê Monica. Sy waarsku ander inwoners van die gebied om op die uitkyk te wees vir onwelkome nagtelike “besoekers” en dit betyds aan te meld as hulle onraad vermoed.

Waldo Potgieter met Max, een van die nuwe hondjies wat hy gekry het nadat die gesin se ander honde vergiftig is.
Exit mobile version