Editor's choiceLocal newsNews

Vrou praat oor ongeluk wat haar man se lewe eis

Die 32-jarige vrou, wat ernstig beseer is in ‘n motorongeluk, wat die lewe van haar man geëis het, probeer hard om die stukke van haar lewe op te tel.

Alida Brits voer daagliks ‘n stryd teen fisieke sowel as emosionele pyn.

Die Herald het in Oktober berig oor die ongeluk wat Alida se man, Dirkie Brits (38), se lewe kort geknip het.

Die egpaar was saam met hul twee kinders, Madelyn (13) en Leoni (10), van Benoni oppad na hul huis in Stoffberglaan, toe die ongeluk plaasgevind het.

Hul Corsa het in Mainreefweg, blykbaar reg van voor, met ‘n ander voertuig gebots.

Dirkie is op die toneel oorlede. Alida het ernstige beserings aan haar bene, pelvis, kop en veral haar nek opgedoen.

Sy het dae later ‘n operasie aan haar nek ondergaan, om beskadigde werwels te herstel.

Daar was veral groot kommer oor die feit dat sy moontlik verlam kon wees.

Volgens Alida, het dokters been uit haar heup geneem om twee werwels in haar nek te herstel.

Sy moet tot die einde van Januarie ‘n nekstut dra en haar vordering word fyn dopgehou.

Haar linkeroog het ook na die ongeluk skeefgetrek en sy moet behandeling daarvoor ontvang.

Alida vertel dat sy van die ongeluk self niks kan onthou nie.

”Ek is in die hospitaal onder sterk verdowing geplaas en het eers later gehoor dat my man oorlede is; daardie leegheid, pyn en verlange na hom is veel erger as die fisieke pyn wat ek deurgemaak het en steeds verduur,” het Alida aan die Herald gesê.

“Ek mis Dirkie ongelooflik baie en party dae weet ek net nie hoe ek gaan voortgaan sonder hom nie.”

Die ongeluk het ‘n geweldige impak op Alida se lewe gehad.

Dirkie was die gesin se broodwinner en Alida self het jare laas gewerk.

“Op my ouderdom en met die bietjie ondervinding wat ek het gaan dit seker nie maklik wees om ‘n werk te kry nie, maar ek het geen keuse nie.

“As gevolg van die beserings, wat ek opgedoen het, is ek  ook nie seker watter tipe werk vir my geskik sal wees nie,” het sy bekommerd gesê.

Na Dirkie se dood het daar ook probleme met die mediesefonds ingetree en Alida sit boonop met mediese rekeninge van oor die R500 000.

“Dit is ‘n groot bekommernis. Ek het twee kinders om te versorg.”

Leoni is na die ongeluk vir skraapwonde en kneusplekke oor haar hele liggaam behandel.

Madelyn het erger seer gekry en is in die hospitaal behandel vir ‘n gebreekte been en enkel. Sy het ook ‘n groot sny aan haar gesig gehad en het van haar tande verloor.

“Dit is vir die kinders net so moeilik. Ons almal mis Dirkie ongelooflik baie,” het Alida gesê.

Die 64-jarige bestuurder van die voertuig, wat glo met die Brits-gesin se Corsa gebots het, is van dronk bestuur en strafbare manslag aangekla.

Die ondersoek duur voort en die ondersoekbampte, s-oa Albert van Wyk  het gevra dat enigiemand met inligting met hom in verbinding sal tree. Sy telefoonnommer is 011 741-4800.

Lees die vorige berigte:

Pa sterf in ongeluk, ma en kind (13) steeds kritiek

Vrou sal van voor af moet leer loop na ongeluk wat haar man eis

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button