Die Arend bied Super 16-krieket aan
Laerskool Die Arend is vanjaar weer vanaf 23 Julie die gasheerskool vir die Super 16-kriekettoernooi vir laerskole.

Die toernooi, wat vanjaar vir die agtste keer gehou word, word beslis tussen die o-13 krieketspanne van 16 laerskole van die Oos-Rand. Wedstryde word oor 12 boulbeurte per span gespeel en geen bouler mag meer as twee beurte boul nie.
Daar sal ook ‘n plaat-afdeling wees.
Wenspanne sal nie net ‘n wisseltrofee ontvang nie, maar ook met prysgeld wegstap, en elke speler sal ‘n medalje ontvang.
“Die toernooi is ‘n wonderlike geleentheid vir jong spelers om hul voorseisoen te begin en so die krieketseisoen in te gaan met opgeskerpte vaardighede,” het Tommie Momberg, organiseerder van die toernooi gesê.
Die spelers sal ook sakke, kriekethoede en nog meer van die hoofborg, KFC Brakpan, ontvang.
Volgens Momberg, sal die beste kolwer, bouler en veldwagter van die toernooi ook aangewys word.
“Dit is ‘n prestige-toernooi hierdie, waar krieketspelers die geleentheid kry om hul ware talente ten toon te stel,” het hy bygevoeg.
Die toernooi duur tot Donderdag, 30 Julie.
Die deelnemende spanne is: Laerskool Die Arend (Brakpan), Laerskool AG Visser (Heidelberg), Laerskool Baanbreker (Boksburg), Laerskool Brakpan-Oos (Brakpan), Laerskool Christiaan Beyers (Springs), Laerskool Concordia (Boksburg), Laerskool Dalview (Brakpan), Laerskool Die President (Germiston), Laerskool Elspark (Boksburg), Farrarmere Primary (Benoni), Laerskool Pam Brink (Springs), Laerskool Rynfield (Benoni), Rynfield Primary (Benoni), Laerskool Selection Park (Springs), Tom Newby School (Benoni) en die Laerskool Tini Vorster (Nigel).



