Maak jou punt tot dit stink
Die bure van Pollockstraat skryf: Ek skryf hierdie brief met die hoop dat die skuldige party dit sal lees.

Daar is reeds tot vervelens toe geskryf oor die “wheelie-bins”, maar ek het soos talle ander myne maar aangeskaf. Die probleem is nou dat ‘n sekere huis in Brakpan-Noord uiteraard ‘n punt wil maak.
Die inwoners het nie een aangeskaf nie en nou is daar reeds omtrent dertig swartsakke op die sypaadjie opgehoop.
Dit lyk en ruik reeds soos ‘n mini ashoop en ek wil nie eers dink aan die wurms en alles anders wat daar tussenin uitbroei nie. Die honde skeur die sakke gereeld oop en dan lê al die gemors oor die pad gesaai.
Dit stink en is beslis ‘n oogseer om nie eens te praat van die gesondheidsgevaar wat dit inhou vir die kinders wat gereeld in die straat speel nie.
Meneer of mevrou, jy ontsier die hele straat met jou ashoop en maak dit ondraaglik om hier te woon.
Kortweg, as jy ‘n punt probeer maak, besef jou punt begin nou stink. Maak ‘n plan asseblief en neem die mense om jou in ag.
Lees ook:
Metro will replace broken bins



