Jou skool se revue kan die beste in die land wees
Lefra Produksies het onlangs sy opwindende nasionale revue-kompetisie, REVUE SA 2015, bekend gestel.
Hierdie lekker kompetisie vir laer- en hoërskole sal vanaf 12 tot 18 Oktober 2015 in Carnival City se Big Top Arena uitgespook word.
Frans Swart, hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, het gesê dat hy baie opgewonde is oor die projek.
“Laerskole en hoërskole spandeer soveel tyd, geld en energie aan hulle jaarlikse revue. Ek het al baie van hierdie revues gesien wat baie na aan professionele produksies se standaard is,” het hy bygevoeg.
“Dit was dan altyd vir my hartseer dat daar nie ‘n verdere lewe vir hierdie wonderlike revues is nie.
“Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal uitstekend wees om hierdie revues nog ‘n slag te kan opvoer.”
Swart glo ook dat REVUE SA 2015 ‘n wonderlike forum sal skep vir skole om na mekaar se eie werk en produksies te kyk en te geniet.
“Dit gaan ook vir skole die geleentheid bied om te sien waar hulle eie standaard lê, deur dit met ander produksies te vergelyk,” het hy vertel.
Slegs 30 laerskole en 30 hoërskole sal aanvanklik gekeur word om deel te neem aan REVUE SA 2015.
Om vir keuring aansoek te doen, moet die volledige inskrywingsvorm voltooi word en skole moet dan ‘n 10 minute lange video saam met die inskrywingsvorm aanstuur.
Die sluitingsdatum hiervoor is 1 Oktober 2015.
Keuring sal teen 5 Oktober afgehandel wees, waarna gekeurde skole in kennis gestel sal word.
Swart het gesê dat die kompetisie op ‘n uitklopbasis aangebied sal word.
Groot pryse is op die spel en elke deelnemer sal ook ‘n sertifikaat van deelname ontvang.
Bekende beoordelaars en aanbieders sal ook ingespan word om van REVUE SA 2015 ‘n groot sukses te maak.
Die kompetisie word ook volledig verfilm, met moontlike latere uitsending op kykNET NOU.
Vir meer inligting oor REVUE SA 2015, kontak vir Lefra Produksies by (011) 815 3000, of stuur ‘n epos aan navrae@revues.co.za
Besoek ook die webtuiste, www.revues.co.za, vir die nodige inligting.



