Editor's noteLocal newsNews

Metro vaar die wandellaan in en maak bietjie skoon

Daar was Donderdagoggend gemengde gevoelens toe lede van die Ekurhuleni Metro Polisie onder die wakende oog van veiligheidswagte ’n poging aangewend het om orde in die uiters vervalle en stinkende wandellaan te skep.

Die Herald het al verskeie kere berig oor die wandellaan wat ’n tuiste vir ’n groot groep hawelose mense geword het, en wat die afgelope paar maande erg agteruitgegaan het.

Donderdagoggend is beddegoed, matrasse en ander gemors, wat deur die hawelose mense gebruik word, summier opgelaai en weggery.

Niemand het ’n kans gekry om te verduidelik of iets te red nie.

Die eienaar van een van die min besighede wat nog in die wandellaan bestaan, Vallerie Kreidl, was nie heeltemal in haar skik met die optrede nie.

Sy en haar man besit die Krap en Kry tweedehandse winkel en pak sommige van hul meubels in die wandellaan aangesien daar soms te veel voorraad vir die winkel is.

“Ons is aangesê om al ons meubels in ons winkel te pak anders sou dit ook verwyder word,” het sy gesê.

“Ons probeer maar net om ’n eerlike bestaan te voer en ons verskaf werk aan ander. Nou word ons ook geboelie. Hier is soveel onwettighede aan die gang, maar daaraan word niks gedoen nie.”

Diegene wat hul voertuie in die wandellaan parkeer is ook aangesê om dit te verwyder.

’n Persoon, wat versoek het dat sy naam nie genoem word nie, het gesê dat die Metro maar kan doen wat hulle wil. “Ons sal net hier bly, want ons het nie ander plek om heen te gaan nie,” het dié man gesê.

Die Herald het kommentaar van die Ekurhuleni Metro Polisie gevra. Dit sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.

Lees ook:

Desperate mense plaas hulle lewens op die spel: slaap oop en bloot in die wandellaan

Besigheidsmense mor oor haweloses

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button