Oom Grobler pronk met 18 veteraan voertuie
Wanneer dit by veteraan motors en antieke meubels kom sal dit moeilik wees om iemand te vind wat by Tom Grobler (80) kan kers vashou.
Dié vriendelike inwoner wat saam met sy vrou, Frederika (wat vir die meeste mense bekend staan as Driekie), in Brakpan-Sentraal woon, versamel al vir meer as 40 jaar veteraan voertuie.
Hy is ook geen onbekende in die dorp en buurdorpe nie aangesien mense hom gereeld nader om in een van sy spogwaens na ’n funksie vervoer te word.
“Ek het in die sewentigs begin met die versameling,” het Tom vertel.
“Dit het maar so aan en af gegaan en ’n mens het soms net te besig geraak daarvoor, maar my liefde vir veteraan voertuie het nog nooit gestop nie,” het Tom gesê.
Hy gesels vanuit die Grobler-gesin se huis, waarin hulle al sedert 1952 woon.
Talle antieke meubels kan gesien word en Tom glimlag terwyl hy praat van die antieke meubels wat hy ook graag restoureer.
Hy is veral opgewonde oor ’n unieke bank wat hy met die agterkant van ’n 1957 Chevrolet geskep het.
“Ek het nog altyd ’n liefde vir antieke goed gehad. In my huis is dit die meubels en buite is dit die karre wat my oogappels is.”
Tom besit 18 veteraan voertuie wat almal deur hom gerestoureer is.
“Dit kan soms drie tot vier jaar duur om die eindproduk te kry.”
“Daar was al mense gewees wat gedink het daar was nie hoop vir sekere van die voertuie nie. Dan sien ek hoe hulle monde oophang as hulle weer die voertuig sien wanneer dit klaar is.”
Tom het ook verder vertel dat hy al menigte male genader was deur potensiële kopers. Van die mense het selfs kilometers agter die Grobler-gesin aangery om ’n aanbod te maak.
“Ek het geen idee wat die waarde van al my voertuie is nie. As ek moet raai sal dit ’n paar miljoen wees, maar ek sien nie my voertuie as geld nie,” het hy gesê.
Tom het verder uitgebrei dat sy een 1957 Chevrolet vir soveel as R800 000 verkoop kan word, maar dat hy glad nie belangstel om een van sy voertuie te verkoop nie.
“My vrou het selfs al gesê dat as ek iets moet oorkom eendag, niemand aan die voertuie mag raak of dit verwyder nie.”








