Talle minder bevoorregtes ontvang iets warm
“Dit is vir ons ‘n voorreg om ‘n klein verskil in ander se lewens te kon maak.”
Daar was verlede Saterdagoggend groot dankbaarheid by die Rata Maatskaplike Dienste (voorheen die Ondersteuningsraad van Brakpan), toe talle minder bevoorregte of hawelose mense iets te ete gekry en ‘n kombers ontvang het.
Die organisasie verskaf, deur middel van ‘n sypaadjiekombuis, daagliks voedsel aan honderde mense.
Gedurende die winter word ‘n Saterdag uitgesonder wanneer die mense ook komberse ontvang.
Bejaardes en kinders het verlede Saterdag ook musse, serpe en kouse ontvang, wat deur die Herald geskenk is.
Dié items is ingesamel tydens die Herald se jaarlikse Winterprojek.
‘n Groot aantal lede van die EaST Rand Crew Klub het tot die sukses van die dag bygedra toe daar aan elke persoon ‘n kombers uitgedeel is.
Wayne Holloway, president van die klub, het gesê dat die klub vanjaar oor die 700 komberse, wat onder behoeftiges versprei sal word, kon insamel.
“Ons het sowat 270 voertuie in ons familie-gebasseerde klub en die ouderom van lede wissel van 18 ot 60 jaar,” het Hollow gesê.





