AfriForum het groot planne vir Brakpan Dam
‘n Groot groep lede van AfriForum, Brakpan, asook lede van die gemeenskap en raadslede het van vroeg af moue opgerol en gemors rondom die dam opgetel.
Die area rondom die Brakpan Dam het Saterdag (Erfenisdag) baie beter daarna uitgesien toe die Burgerregteorganisasie, AfriForum, se Brakpan-tak deelgeneem aan ‘n landswye #SELFDOEN aksie, deur saam met lede van die plaaslike gemeenskap aandag te vestig op die belang van die bewaring van die omgewing.
‘n Groot groep lede van AfriForum, Brakpan, asook lede van die gemeenskap en raadslede het van vroeg af moue opgerol en gemors rondom die dam opgetel.
Drie vragte rommel is binne ‘n uur versamel, waarna dit na ‘n stortingsterrein geneem is.
Deur te steun op die omvattende pilare waarop AfriForum rus, naamlik gemeenskapsveiligheid, plaaslike regeringsake, omgewingsake, jeugsake en kultuur en erfenis, asook die Brakpan-tak se twee bykomende forums, naamlik ontwikkeling- en gesondheidsake, was daar Saterdag ‘n gekoördineerde aanslag op die verval van die openbare geriewe rondom Brakpan Dam.
Volgens, Rudolf Herbst, forumhoof, is daar ‘n beduidende gebrek aan toegangsbeheer rondom die dam.
“Skamele sekuriteit is nie opgewasse om onwenslike elemente uit te hou nie en dus is die hele omgewing ‘n teelaarde vir ongure karakters wat aan ‘n verskeidenheid van sosiaal onaanvaarbare aktiwiteite deelneem, en skaamteloos die bewyse van hul praktyke agter laat,” het hy opgemerk.
Volgens hom is verskeie voorstelle en moontlike toegansbeheermaatreëls aangehoor en sal dit met die plaaslike owerhede opgeneem word.
Drummond Doig, forumhoof, het gesê dat die geleentheid inderdaad produktief was, aangesien dit die verhouding tussen die lede van die gemeenskap, raadslede en die Brakpan AfriForum-tak gevestig en verbeter het.
“Almal het vir dieselfde doel gewerk en binne ‘n uur was daar al drie hope rommel wat versamel en verwyder is,” het Doig gesê.
Hy het veral sy dank uitgespreek teenoor rdl Brandon Pretorius en rdl Stefanie Ueckermann, vir hul toewyding en bereidwilligheid om by die projek betrokke te raak.
“Die AfriForum Brakpan-tak gaan sonder verwyl gebruik maak van hulpbronne en kragte wat nasionaal deur AfriForum beskikbaar is om die verwaardelosing van ons omgewing te stuit,” het forumhoof Bernadine Durandt tydens die skoonmaak projek opgemerk.
“Watermonsters sal geneem word en klagtes is onder die aandag van metro raadslede gebring, rakende riool wat in die dam vloei en onaanvaarbare vlakke van besoedeling van verskeie aard.”
‘n Groot gedeelte van die oggend se aktiwiteite het ook op deelnemers se opvoedingsmandaat as ouers gefokus.
Kinders van so jonk as drie jaar het onder leiding van volwasse toesig ook deelgeneem aan die skoonmaak projek en veral rondom die speelpark omgewing opgeruim.
Volgens Frikkie Schoeman (forumhoof) is dit die volgende geslag wat gelei moet word om aan te dring op eienaarskap van hulle omgewing.
“Ons jeug is ons grootste erfenis vandag. Die verantwoordelikheid rus swaar op ons skouers om hulle toe te rus met die vaardighede en veral waardes om die omgewing vir nog baie generasies te bewaar,” het Schoeman gesê. Die kinders se ywer en flinkheid was vir ons almal ‘n inspirasie.” het Schoeman gesê.
Ria van Wyk, wat ook as forumhoof dien, het aan die Herald gesê dat Brakpan oor ‘n ryk geskiedenis beskik.
“Die dam was vir geslagte voor ons ‘n gunsteling plek vir baie Brakpan-families om te kon kom piekniek hou,” het sy vertel.
”Die klein stoomtreintjie kon ry, kinders kon leer rolskaats ry en dit was nie ongehoord vir mense om selfs in die dam te kon afkoel nie.”
Die ander twee forums, onwikkeling- en gesondheidsake, het ook deelgeneem en verskeie aantekeninge is gemaak oor hoe plaaslike besighede meer betrek kan word in die bewaring van die erfenis en hoe maatreëls teen die misbruik van drank en dwelms rondom die dam aangespreek kan word.
Die oggend is afgesluit deur die voorsitter, Johan Fourie, wat almal bedank het vir hulle deelname.
Hy het ook die nuwe eienaars van die Lake Restaurant bedank vir die daarstelling van fasiliteite vir die oggend.
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)






