Program vir 70-jarige bestaansvieringe van die Stoffies gefinaliseer
Alles is slaggereed vir ‘n naweek van verskeie opwindende byeenkomste om die Hoërskool Stoffberg se 70ste bestaansjaar te vier.
Die vieringe strek oor die naweek van 4 tot 6 November en die program sluit die volgende in.
• Vrydag (4 November) om 6.30nm:
Die gewilde sanger en televisie persoonlikheid Pieter Koen tree in die Peet Aucampsaal op. ‘n Vingerete is ingesluit by die ingangsfooi en belangstellendes kan ook ‘n tafel vir 10 by die skool bespreek. ‘n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.
• Saterdag (5 November), 3nm tot laat:
‘n Lekker saamkuier geleentheid word by die skool gehou, in die vorm van ‘n bring en braai. Die skool sal die pap en sous verskaf en ‘n kontantkroeg sal weer beskikbaar wees. Tydens die byeenkoms sal die Wa-Drif boereorkes die teenwoordiges met uithaler musiek trakteer, en ‘n platejoggie sal ook musiek maak. ‘n Ingangsfooi van R30 per persoon is van toepassing.
• Sondag (6 November) om 8.30vm: ‘n Woord-en-lied program met Lieb Bester en sy broer, dr André Bester, word gehou. Hierdie is ‘n dankdiens wat by die Brakpan-Wes NG-gemeente, op die hoek van Paul Krugerstraat en Reitzlaan, Dalview, gehou sal word.
Na afloop van die diens kan daar tee en koffie saam met die Bester-broers geniet word.
Alle oud en huidige Stoffbergers word uitgenooi om die naweek te gaan geniet.
Kaartjies en tafelbesprekings vir Pieter Koen se optrede is by die skool beskikbaar (011 740-0210).



