Kollig: Leer vir Nicole Lombard ken
Hoërskool Die Anker se hoofdogter is in die week se kollig.
Nicole Lombard (18) is vanjaar die hoofdogter van Hoërskool Die Anker. Sy is ’n enigste kind wat haarself as vrolik, eerlik, lojaal, gelowig en rustig beskryf. Sy woon in Sonneveld.
Die jaar snel vinnig verby. Wat het tot dusvêr vir jou as hoofdogter van jou skool uitgestaan en was daar ’n oomblik wat jy liewer sou wou vergeet?
Wat vir my uitgestaan het was die feit dat daar hierdie jaar meer as 300 graad agt leerders by die skool ingeskryf het. Dit was groot pret om die nuwelinge in te huldig as ware Ankers. Ek geniet matriek vreeslik baie, so nee, daar is nie ’n oomblik wat ek liewer sou wou vergeet nie.
• Wat maak van mens ’n goeie leier?
’n Goeie leier moet respek hê vir ander en hom/haar te alle tye waardig gedra. ’n Goeie leier moet nie nét leiding kan neem nie, maar hy/sy moet ook ander mense kan dien.
• Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?
Ja, ek dink dit is belangrik, want leiers is veronderstel om ’n voorbeeld te stel vir ander leerders en om te help om orde in die skool te handhaaf.
• As jy raad vir jonger kinders kon gee wat ook graag hoofseun/meisie wil word, wat sal dit wees?
Ek sal sê jy moet net jou ware self wees. Moenie die titel najaag nie, want as dit die Here se wil is dat jy ’n hoofleier moet wees, sal dit gebeur. Wees nederig en straal liefde uit in jou optrede.
• Hoe voel jy oor boeliery in enige skool?
Ek kan nie boeliery verdra nie. Skole is veronderstel om ’n veilige hawe vir kinders te wees waar hulle nooit hoef te vrees om op die skoolterrein te beweeg nie.
• As jy vorentoe na die tyd wat oor is vir jou by Die Anker kyk, waarna sien jy die meeste uit?
Ek sien baie uit na ons skool se matriekafskeid.
• Beoefen jy sport/kultuur by die skool en dink jy dit is belangrik dat leerders aan sport/kultuur deelneem?
Ja, ek neem deel aan toneel, redenaars, kunswedstryd, revue en die sanggroep. Ek dink dit is belangrik dat leerders aan aktiwiteite waarvan hulle hou deelneem, ongeag of dit sport of kultuur is. Dit is belangrik om jou passie uit te leef en dit met ander te deel.
• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?
Ja, beslis. Daar is hopeloos te veel negatiwiteit wat oor ons jong mense se toekoms uitgespreek word. Ek glo dat elke jong mens sy toekoms met positiwiteit moet aanpak. Saam kan ons ’n verskil in ons land maak.
• As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?
Ek sal graag wil hê dat elke persoon in die wêreld hulself bekeer en hul medemens onvoorwaardelik lief het, ongeag van verskillende rasse, geslagte, kulture, ens.
• As jy vir een dag die President van die land kon wees, wat sou jy doen?
Ek sou gelykheid bevorder en ek sou sosiale en maatskaplike dienste soos gesondheidsorg verbeter.
• Wat gaan jy volgende jaar doen?
Ek gaan volgende jaar aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom vir ’n geoktrooieerde rekenmeester studeer.
• Dink jy die jeug van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone?
Ja, die jeug spandeer definitief te veel tyd op hul selfone.
Lees ook: Oud-Anker vertolk hoofrol in Grahamstown
Volg ons:



