Local newsNews

In die Kollig: Leer Stoffies se hoofseun ken

Ruben Liversage is in die week se kollig.

Ruben Liversage (18) is vanjaar die hoofseun van die Hoërskool Stoffberg. Hy woon saam met sy ouers, Wayne en Marika, asook ’n suster Mari in Larrendale.

Die laaste jaar van jou skoolloopbaan snel vinnig verby. Wat het tot dusvêr vir jou uitgestaan as hoofseun van jou skool en was daar ’n oomblik wat jy liewer sou wou vergeet?

Iets wat vir my regtig uitgestaan het tot dusvêr hierdie jaar was dat, ongeag my foute, het my mede leiers 100 persent agter my gestaan en my gehelp met alles wat ek moes aanpak. Daar is nie regtig ’n oomblik waarvan ek sou wou vergeet nie.

Wat hou die res van die jaar vir jou in?

Ek het ’n baie besige ses maande wat wag. Dit skop af met die revue, wat nog elke jaar vir my ’n hoogtepunt was, sedert die begin van my hoërskoolloopbaan. Die enigste laagtepunt is dat dit my laaste revue sal wees, maar ek sien definitief uit daarna en ek moedig almal aan om dit te kom kyk. Direk na die revue begin ek met rekord-eksamen, dan is dit weer neus in die boeke. Gelukkig sluit die kwartaal af met nog ’n hoogtepunt, naamlik ’n staptoer, wat hierdie jaar by Magoebaskloof is. En dan volg die eindeksamen.

Wat maak van ’n mens ’n goeie leier?

’n Goeie leier moet definitief nie heeltyd alles alleen probeer beheer nie, maar na die probleme van ander luister, en saam met die res van jou span die probleem oplos.

Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Definitief, dit help om beheer toe te pas in ’n skool en goeie leiers stel ’n voorbeeld waarna die ander leerders kan streef.

Wat sou jou raad wees aan die leerders van jou skool wat hoop om in die toekoms op die dissiplinêre komitee te dien?

Eerstens moet jy net jouself wees. Jy moet nie iets voorgee wat jy nie is nie. Jy gaan baie klippe kou, dis verseker, maar moet nooit tou opgooi nie. Tweedens, onthou altyd dat jy ’n voorbeeld moet stel vir die ander leerders van die in die skool.

Hoe voel jy oor boeliery in enige skool?

Boelie is ongelukkig ’n probleem in elke skool en soms lê die oorsaak baie dieper. Ek voel egter dat wanneer dit dadelik uitgesorteer word tussen beide partye, dit vinnig gestop kan word sonder enige nadelige komplikasies.

Beoefen jy sport of ander aktiwiteite by die skool en dink jy dit is belangrik dat leerders betrokke moet raak?

Ek het atletiek en rugby gedoen, maar weens beserings moes ek dit prysgee. Gelukkig het ek ’n nuwe passie vir musiek ontwikkel. Ek glo wel dat dit belangrik is dat alle leerders betrokke moet raak, al is dit net deur middel van ondersteuning langs die veld.

Het jy al besluit watter beroep jy gaan volg en wat is die plan van aksie?

Ja, ek beplan om meganiese ingenieurswese te gaan studeer. So, ek leer hard om hopelik ’n beurs vir my studies te kry.

Is daar hoop vir die jong mense van hierdie land?

Ja, ek glo met my hele hart dat daar hoop is vir ons jongmense in Suid-Afrika, en ek hou vas aan die Here se belofte in Joshua 1:9, “Het ek jou nie beveel om nie bang of huiwerig te wees nie, die Here jou God is met jou oral waar jy gaan.”

As jy vir een dag die president van die land kon wees, wat sou jou jy doen?

Eerstens sou ek ander se belange voor my eie gestel het. Ek sou dan saam met my land se mense gewerk het om belangrike besluite te maak, en Suid-Afrika te verbeter.

Wat is jou siening oor sosiale media en die rol wat dit in vandag se samelewing speel?

Sosiale media het sy voordele, maar mense neig om net die negatiewe raak te sien en dit verkeerd te gebruik.

Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Uitdagings pak ek met my volle vermoë aan en maak dit opwindend. Teleurstellings is nie altyd ’n slegte ding nie, want jy leer daaruit, en dit help jou om in die toekoms sekere situasies beter te hanteer.

Beskryf jouself in vyf woorde.

Lojaal, onafhanklik, hardwerkend, entoesiasties en netjies.

Lees ook: Herinneringsdiens ter ere van Steve Marx

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button