Editor's noteLocal newsNews

Titel sal jong vrou bemagtig om verskil te maak

Annerette wil die titel gebruik om opheffingswerk te doen.

’n Inspirerende inwoner van die dorp, Annerette Odendaal (32), is ’n finalis in die Mej Gauteng 2018/2019 kompetisie wat deur die Role Models Foundation aangebied word.

Die Role Models Foundation is daarvoor bekend dat dit opheffingswerk doen en dit is presies wat Annerette gehoop het om vir die kompetisie in te skryf.

“Ek het gesien dat die stigting ondersteuning aan verskeie instansies en organisasies bied en dit het my belangstelling geprikkel,” het sy gesê.

Dié mooi donkerkop, wat met Spina Bifida gebore is, vertel dat sy graag, deur middel van haar blomme besigheid, ‘Flowers with Purpose’, terugploeg in die gemeenskap waar sy kan.

“Dit is egter nie vir my bevredigend genoeg om net blomme te verkoop nie en ek hoop dat hierdie kompetisie vir my ’n platform sal skep om ander te help,” het sy gesê.

Annerette het kennis geneem van die drie organisasies wat baat sal vind by die kompetisie en dit het haar finaal oorgehaal om in te skryf.

“Die organisasies waarby ons deur middel van ons deelname aan die kompetisie betrokke kan raak is Imfundo Educare vir weeskinders, Asanté Neo Life vir mishandelde vroue en kinders asook Tumakelo, ’n projek wat op bejaardes fokus.

Lees ook: Brakpan skoonheid hou SA se naam hoog

Annerette vertel dat dit die eerste keer is dat sy aan so ’n kompetisie deelneem.

“Met ander skoonheidskompetisies moet jy liggaamlik perfek wees en dit is nie met my die geval nie.”

Sy glo ook dat innerlike skoonheid baie belangriker is as uiterlike skoonheid en voeg by dat ’n mens dit elke dag moet uitstraal.

“Indien ek die titel wen sal dit my bemagtig om na ander uit te reik. Ek sal dit nie sien as ’n skoonheidstitel nie, maar eerder as ’n hulpmiddel om my droom uit te leef.”

Volgens Annerette word daar van elke finalis verwag om om ’n kontantbedrag in te samel.

Die finaliste word ook aangemoedig om die stigting se “Poverty Sucks”-projek te ondersteun en onder andere nie-bederfbare kos, klere, en benodighede vir babas in te samel.

“Dit is ’n lekker uitdaging want die einddoel maak alles die moeite werd,” het sy gesê.

Annerette, wat ook aan die Rhema Bybel Kollege gestudeer het, sal op 17 November in Centurion aan die gala aand deelneem.

Persone wat belangstel om Annerette te help om haar droom te verwesenlik kan haar kontak by annerette@mweb.co.za

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button