VIDEO: Ouma Doep word ’n eeu oud
Ouma Doep het haar 100ste verjaarsdag behoorlik gevier saam met vriende en familie.
’n Geliefde inwoner van die dorp, Sue du Plessis, of ouma Doep soos wat baie mense haar ken, het verlede Donderdag haar 100ste verjaarsdag saam met vriende en familie by die Royal Oak Country Klub gevier.
’n Op en wakker Ouma Doep het lekker gesellig saam met almal gekuier en ook genoem dat sy nooit gedink het dat sy so ’n wonderlike ouderdom sou bereik nie.
“Ek glo die Here is baie lief vir my, om my so lank te gespaar het en buiten dit, was ek ook nog nooit ernstig siek nie,” het sy met ’n glimlag vertel.
Sy is op 20 September 1918 in Frankfort in die Vrystaat op ’n plaas gebore en het in Klerksdorp grootgeword waar sy by die Sacred Heart Convent School skool gegaan het.
Die goedversorgde vrou het terug reflekteer oor haar lewe en het met groot opgewondenheid begin vertel oor hoe sy en die liefde van haar lewe, Ben du Plessis, mekaar ontmoet het.
“Ek het een dag gebruik gemaak van die Johannesburg trein toe ’n vreemde man reg voor my kom sit en kort-kort vir my gekyk het.
“Ek het so effe ongemaklik gevoel maar het niks daarvan gemaak nie.
“Net voor ons van die trein moes afklim, het hy vir my gesê hy sal my weer sien.
“’n Paar maande het verby gegaan en toe ons albei toevallig by dieselfde partytjie opgedaag het, hy het nie op hom laat wag nie en het my gevra om met hom te dans.”
“Die koeël was deur die kerk en van daar af het die liefde begin blom,” het ouma Doep vertel.
Sy en Ben is in 1933 in Kempton Park getroud en was vir 63 jaar sy aan sy toe hy in 1996 aan ’n natuurlike oorsaak dood is.
Ben, wat sy as ’n wonderbaarlike en prominente man beskryf, was die burgemeester van Kempton Park, waar Du Plessisstraat ook na hom vernoem is.
Lees ook: Dorothy’s remarkable life as she hits 100
Sue spog graag met haar nege kleinkinders, 12 agter-kleinkinders en 10 agter-agter-kleinkinders.
Die familie het tans vyf geslagte waarvan die oudste in elke geslag vandag nog lewe.
Dit is Sue gevolg deur oudste dogter, Minie (83), Minie se seun, Dirk (63), Dirk se dogter, Lindie (39) en Lindie se dogter, Carli (9).
Ouma Doep is alom bekend as ’n fantastiese kok en ’n merkwaardige vrou en sy help graag mense waar sy kan.
Die seuns by die koshuis, waar sy en haar man jare lank werksaam was, was vir haar soos haar eie en het haar behoorlik jonk gehou.
Sy het altyd haar bes gedoen om die heerlikste maaltye voor te sit.

Sue is al sedert 1980 ’n inwoner van Tweedy Park, maar is nog net so bedrywig soos die dag toe sy daar aangekom het.
Sy luister graag na die sportuitsendings op die radio, aangesien haar sig nie meer so goed is nie en dit is altyd vir haar ’n hoogtepunt wanneer haar kinders vir haar gaan kuier. Piesangbrood is haar gunsteling en sy sal altyd stop en een koop as sy sien iemand verkoop dit.
Die flukse 100-jarige doen steeds haar eie haar inkopies en was haar eie wasgoed.
Gevra oor haar raad aan die jeug van vandag het sy die volgende te sê gehad.
“Dit is belangrik dat ’n vrou vir haar ’n goeie man kry en as jy ’n man is, is dit belangrik om ’n goeie man vir jou vrou te wees en elke dag voluit saam te leef. Geld is nie belangrik nie. Liefde is alles.”
Haar geheim om lank te lewe, som sy in een sin op.
“’n Mens moenie stres nie. God sorg vir elke dag.”
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



