Editor's choiceLocal newsNews

In die Kollig: Leer vir Chane du Plooy ken

Chane du Plooy is die week in die kollig.

Chane du Plooy is tydens die onlangse prysuitdeling van Hoërskool Die Anker aangewys as Anker van die Jaar. Sy woon saam met haar ouers, Oelof en Laura asook haar broer, Divan (14) en suster Shanike (6) in Dersley Park, Springs. Sy was ook vanjaar die onder-hoofdogter vir kultuur.

Anker van die jaar is die top toekenning. Wat beteken dit vir jou?

Alles. Dit is vir my so ’n groot eer en voorreg om die toekenning te kon ontvang. My skool is my trots en ek het nog altyd gevoel dat dit my plig is om te verseker Hoërskool Die Anker kry die eer en respek wat hul verdien.

Watter toekennings het jy nog ontvang?

Kultuur dogter 2018, senior Engelse en Afrikaanse redenaar dogter 2018, revue dogter, solo sang revue dogter, graad 12 revue dogter, kunswedstryd dogter 2018, eerste op top 10 vir derde kwartaalpunt, naaswenner akademie (tweede op top 10) vir die jaar.

As jy terugkyk na jou matriekjaar wat sou jy as ’n hoogtepunt uitsonder?

Hoogtepunte was beslis die jaar se interhoër, die Anker teen Hugenote toernooi en toe ek deurdring na die ATKV-landsfinaal redenaarskompetisie, waar ek ’n sesde plek op hul top 10 behaal het. By al hierdie geleenthede het Die Anker, soos altyd, koning gekraai en kon ek my trots om ’n Anker te wees nie keer nie.

Was daar ’n laagtepunt gedurende die jaar?

Natuurlik was daar ook laagtepunte, maar ons skool se CSV en Bybelperiodes het elke keer tot my redding gekom. Dit is die plek waar elke Anker net hom- of haarself kan wees en CSV het verseker dat ek met elke laagtepunt, soos ons skool se leuse sê, “Geanker in Geloof” kon bly.

Hoe gaan dit met jou finale eksamen?

Daar is ’n duisend emosies wat deur my kop maal as ek dink aan die eindeksamen, veral as jy besef dat na 12 jaar se bloed, sweet en trane alles neerkom op hierdie oomblik. En soos Eminem sê “You only got one shot”. Ek gaan die eksamen ten volle aanpak en net my beste gee.

Wat is jou gunsteling vak en van watter een hou jy die minste?

My gunsteling vak is dramatiese kunste, waar my persoonlikheid sterk na vore kom. Ek hou niks van Afrikaans nie, alhoewel ek gedigte kan opvoer, hou ek nie daarvan om dit te ontleed of te leer nie. Ek meen dalk het die digter niks bedoel toe hy ’n kleinletter in plaas van ’n hoofletter gebruik het nie en het net nie sy “spell check” op “auto check” gestel nie.

Wat het vir jou uitgestaan van jou matriek afskeidsfunksie?

Die fotosessies. Al die snaakse kiekies saam met familie en vriende het vir ’n dag vol opwinding gesorg.

Indien jy die geleentheid kry, sou jy Suid-Afrika verlaat om permanent in ’n ander land te gaan woon?

Dis ’n baie moeilike vraag. Toe ek klein was sou die antwoord sonder twyfel “ja” wees. Ek wou net Amerika toe en die volgende Charlize Theron word, maar oor die jare het ek so lief geraak vir my land en sy mense, kultuur-rykdom en natuur-weelde. Waar anders sal ek soos Snotkop sê, elke Vrydag, ’n tjoppie op die vuur kan sit en net rustig kan raak?

Wat sal jou raad wees aan graad 11 leerders wat volgende jaar matriek aanpak?

Moenie tyd mors nie. Tyd is een van die kosbaarste besittings wat jy het en is die hoofbestanddeel vir die resep van beide sukses en mislukking. Onthou, wat jy vandag insit, sal jy eendag die vrugte van pluk.

Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?

Musiek.

Wie is jou rolmodel en waarom?

Oprah Winfrey, Nelson Mandela en Maya Angelou. As jy die outobiografieë van elk van hierdie mense gaan lees, sal jy gou besef dat hierdie mense dit nie maklik gehad het nie. Ten spyte van soveel uitdagings wat hierdie mense in die gesig gestaar het, is hul vandag wêreld-beroemd. In tye wat ek dikwels gevoel het, “ek dra my kruis met ’ frons” (Karlien van Jaarsveld) kyk ek op na hierdie mense en besef dat ten spyte van al die kruise wat hul gedra het, hul dit eerder tot hul beskikking gebruik het om sukses te behaal, eerder as wat hul toegelaat het dat dit hul onderkry!

Beskryf jouself in vyf woorde.

Passievol, lukraak, verantwoordelik, hardwerkend, “outgoing”.

Lees ook: Dié Anker praat haar pad oop

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button