Editor's choiceLocal newsNews

Luca-Leigh reik na die sterre

Die agt-jarige het talent in oorvloed.

Luca-Leigh Nieuwoudt, ’n graad twee leerder aan die Sonneveld Akademie, het gedurende die Septembervakansie haar beste voetjie voorgesit by oudisies van iPop (International Presentation of Performers).

Sy het in die sang en drama afdelings deelgeneem.

Die talentvolle jonge juffie het gekwalifiseer om deur talent-afrigters onder hande geneem te word en om later in Los Angeles vier liedjies op te neem.

IPop is nie ’n kompetisie nie, maar ’n maatskappy wat geleenthede bied aan individue wat graag wil sing, of drama wil doen.

Luca-Leigh (8) het ’n passie vir kuns, dans en drama en het groot drome vir die toekoms.

“My grootste droom is om ’n sangeres te word en as die opnames in Los Angeles kan gebeur kan dit baie deure vir my oopmaak,” het sy vertel.

“Ek is bereid om hard te werk en sal alles in my vermoë doen om my doelwit en ook my droom te bereik.”

Lees ook: Laerskool Die Arend se langasems beïndruk

Sy is vroeër as ’n semi-finalis vir die program, Solis vir Christus, wat op Kyknet uitgesaai is, gekies.

Dié blootstelling het baie gehelp en daartoe gelei dat sy by Studio Cha in Pretoria aangesluit het.

Sy woon een keer per week dié sangskool, wat leerders as professionele sangers oplei, by.

Onderrig word in alle fasette van die musiekwêreld, van die fotosessies tot die CD-opnames en vele meer, gegee.

Luca-Leigh het ook aan die Germiston Kunswedstryd deelgeneem, waar sy die Afrikaanse Pop en die Broadway afdelings gewen het.

By die Garsfontein Kunstefees het sy ook die Afrikaans Pop en die Broadway afdeling gewen en is ook as die top graad twee presteerder aangewys.

Asof haar sang en drama talente nie genoeg is nie, is sy ook baie kreatief en kunstig. Sy is ook onlangs as die potlootskets afdelingswenner by die Con Spirito Kunsvereniging aangewys.

In die ander afdelings soos waterverf, akriel en lapverf het sy onderskeidelik A+ en A++ gekry.

Sy het later ook by die Del Arte Kunstefees deelgeneem en uitstekend gevaar waar sy A++ vir lapverf, akriel en waterverf gekry het.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button