In die kollig: Leer vir Dylan Viljoen ken
Laerskool Die Arend se hoofseun is in die kollig.
Dylan Viljoen (12) is vanjaar die hoofseun van Laerskool Die Arend. Hy woon saam met sy ouers, Hennie en Arlene en broer Ryan (10) in Dalview.
• Jy is die hoofseun van jou Laerskool Die Arend. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Hoe hanteer jy dit tot dusvêr?
“With great power comes great responsibilities”. Dit is vir my die grootste eer ooit. Dit was my droom van die dag wat ek by graad een ingestap het. Die verantwoordelikheid is groot, maar ek geniet elke oomblik en ek probeer elke taak uitvoer tot die beste van my vermoë. En ek probeer die beste wees wat ek kan wees, in alles wat ek doen.
• Wat maak van ’n mens ’n goeie leier?
Om te luister, en om te wys jy stel belang in elke situasie waarin jy geplaas word. Jy moet ’n voorbeeld vir ander wees en hulle moet opkyk na jou. Jy moet elke situasie regverdig hanteer.
• Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?
Ja, ek dink dit is baie belangrik om leiers aan te stel. Hulle moet help om dissipline te handhaaf op die speelgrond. Hulle moet ekstra oë en ore wees vir die onderwysers. Dit is goed om leiers te hê, want sonder leiers sal daar geen dissipline toegepas word nie.
• Die jaar is nog lank, waarna sien jy die meeste uit?
Om my rol as hoofseun tot die beste van my vermoë uit te leef. Om ’n verskil te maak in almal om my se lewens. Om ’n positiewe gesindheid uit te beeld. En om die laaste jaar van my laerskoolloopbaan die beste jaar te maak, nie net vir my nie maar vir almal om my
• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?
Ek is mal oor natuurwetenskap. Ek verstaan dit maklik en alles maak vir my sin.
• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?
Daar is nie regtig ’n vak wat ek ’n mis sal gee nie, want alles wat ek leer is dinge wat ek moet weet en wat dalk eendag in my lewe van toepassing gaan wees.
• Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?
Ja, ek speel rugby en ek swem. Ek dink dit is belangrik om gebalanseerd te wees. So ja, ek dink kinders moet aan sport deelneem, maar moet net soveel aandag aan akademie en kultuur gee.
• Wat is jou mening oor boelies in ’n skool?
Ek hou nie van boelies nie. Ek dink dit is baie lelik om ander kinders af te kraak, of seer te maak. Maar hier by ons skool word boelies vasgevat. Dit word nie geduld nie.
• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?
Natuurlik is daar hoop, daar sal altyd hoop wees ongeag hoe sleg dit in ons land gaan. Met ’n positiewe houding en jou oë gerig op die Here is niks onmoontlik nie.
• As jy een wens het, wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?
Ek sou al die liefde, ondersteuning en aandag wat ek elke dag kry met almal om my wou deel.
• Wat is jou mening oor die rol wat sosiale media vandag speel?
Sosiale media speel ’n belangrike rol in vandag se samelewing. Daar is baie voordele sowel as nadele. Daarom moet jy verantwoordelik wees as jy sosiale media gebruik, en altyd bewus wees van die gevolge van jou aksies as jy dalk iets op sosiale media plaas wat onvanpas is.
• Het jy al besluit wat jy eendag wil word?
Ek is nog tussen twee vure. Dan wil ek ’n vlieënier word, dan wil ek in die mediese rigting gaan. Maar vir nou gryp ek elke geleentheid wat na my kant toe kom met al twee hande aan. Ek geniet nog my kinderlewe.
• Wat laat jou sommer lekker lag?
Ek kan lekker lag as ek my boetie terg en hy het nie ’n “come back” nie. Die uitdrukking op sy gesig is iets om te beleef.
• Wat maak jou baie gou kwaad?
Onregverdigheid. Ek hou niks daarvan as iemand onregverdig behandel word nie. En ek hou ook nie daarvan as mense lelik met mekaar is nie.
• Jy moet vir twee weke op ’n eiland gaan bly en jy mag net vyf items saamneem. Wat sal dit wees?
Twee weke op ’n eiland klink hemels. Ek sal my Bybel, rugbybal, selfoon, “boombox” en my tandeborsel vat.
Volg ons:
Vir meer plaaslike nuus besoek Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



